Friday, April 17

..just another day in Paradise..

Titel van 'n ou Phil Collins liedjie. Just another day in Paradise. Maar net nog 'n dag op hierdie rots wat om 'n geel son spoed. 'n Vrydag nonetheless, so darem naweek wat voorlê.

Wat het die afgelope ruk gebeur?


  • Liefie se verjaarsdag, met karaoke aand gevier
  • Brad was op rolbal toernooi, het darem nie te sleg gevaar nie
  • Cherise is gekies om BGN toernooi te gaan speel
  • Danielle is besig met revue
  • En ek haal asem en bestaan
Ons was Sondag by Amanda-hulle om Gustav se 21ste te vier, met 'n roerbraai. Glad nie te sleg nie. Darem rustig. En daarna gou by Ma gestop om 'n planthangding teen haar muur op die stoep vas te sit. En toe maar huiswaarts. 

Opwindend.. Hou vas jou matras, die opwinding is besig om oor te neem!

En die winter is op hande. Dae raak korter, later lig en vroeër donker. En mens voel die byt in die lug.

En dis al my opwindende nuus vir die week.

Groetnis ou Grote. 

Wednesday, April 8

Soms is geen nuus goeie nuus

In my lewe glo ek dat geen nuus soms goeie nuus is, ook in die geval. Want ek het nie juis nuus nie. In elk geval niks waarvan almal nie alreeds weet nie. Want dis maar hoe dit is. Paar interessanthede wat die afgelope ruk gebeur het:


  • Liefie en vrind het bietjie uitval gehad, met die gevolg dat hulle nie juis meer baie kom braai nie. Is eintlik hartseer en onnodig, maar nou ja, hy is hardkoppig en heethoofdig.
  • Bolle rol kom so op 'n stappie aan.
  • Liefie het lipome laat uitsny, lyk amper of iemand haar kop wou afsaag.
  • Brad is Bloem toe vir interdistrikte rolbaltoernooi. Kry toe sy Gauteng-Noord halfkleure.
  • Cherise het in die finaal van die BGN Novices Dames enkel toernooi gespeel en 2de geëindig. Baie goeie resultaat vir iemand wat net 6 maande speel!
  • Beurtkrag is nog steeds deel van ons lewens. Gelukkig vir my kragopwekker wat die huis kan aan die gang hou as Eskom die krag afsit. Wat amper elke aand gebeur.
  • Liefie het 'n A-klassie gekry, die nuwe A200. So 'n witte. Dekselse mooi karretjie!
  • Van tjom eeue laas gehoor. Wonder soms of dit my aftershave was..
  • En van boeta ook lanklaas. Hy werk blykbaar baie uitstedig. Iets met trokke.
  • En nou ja, dis al die nuus. Wat nie juis baie nuus is nie. 
Ek wonder steeds of dit goed gaan met ou Grote. Beste vir jou my maat!

Tuesday, January 20

Hiert! Kyk wie het besluit om weer te skryf. (Of so iets)

Nou kyk, die ding dat ek net eenmaal 'n jaar (en soms minder) skryf, is sommer twak. Groot twak sê ek jou. Want daar gebeur baie dinge, en dan kan ek dit nie hier op die blok sit nie, want ek vergeet, of raak besig, of is sommer net dêm sleg en lui.

So ek dink ek moet van nou af weekliks op die ding sit en woorde skryf. Want die lewe gaan aan.

Ok, wat het die afgelope (eintlik laas) jaar gebeur:

  • My PH is wonderbaarlik laer. Dokter meen dit is oor ek elke aand pligsgetrou met daai kompressor slaap.
  • Liefie het nog 2 honde (Milo en Beertjie) bygekry. 
  • Brad het Mackie by Ouma gekry toe sy moes trek Avondrus in V-Town toe.
  • Cherise is sak en pak terug met haar 3 honde.
  • So ons het 9 honde.
  • En voëls.
  • En 'n kat.
  • En visse.
  • En 'n skilpad.
  • JP is terug Johannesburg toe.
  • Die swembad se sonpanele wil nie werk nie, moet pype vervang wat deur die son verniel is.
  • My tuin het plante bygekry, dit lyk soos 'n oerwoud.
  • Ek het 'n klein karavaantjie gekoop, moet hom nog mooi modify.
  • Ek ry nou 'n B200CDI (so 'n blouerige kleur).
  • Ek het een moerse hifi 2dehands gekry vir minder as spotgoedkoop.
  • En opgegradeer na 'n Explora toe.
  • Ek het baie van my besittings afgestaan aan die herverdeling van skatte (sonder medewete of toestemming):
    • My groot tent
    • Visstokke
    • My potjies
    • Kompressor
    • Sweismasjien
    • Brad se fiets
    • Ander gereedskap
  • Brad het 'n motorfietsie gekry.
  • Ek het darem van my gereedskap vervang.
  • En 2 potte gekoop.
  • Ons het begin rolbal speel by Munies. (Dis vet pret!)
  • Kersfees het gekom en gegaan, saam met ons vrinne deurgebring.
  • So ook Nuwejaar.
  • Ek doen nou C# programmering by die werk ook, het besluit om my spanleier takie eerder te los, en te fokus op programmering. Daar is nie genoeg tyd vir alles nie.
En dit is in 'n neutedop wat die afgelope lang ruk gebeur het. Nogal baie, en ek kon meer gereeld probeer opdateer wat gebeur. So ek meen ek moet maar eerder probeer om weekliks ten minste 'n gedagte of 2 op die bladsy aan te bring.

Life happens when we are too busy making other plans.

Geniet die lewe!

Wonder hoe gaan dit met ou Grote.

Sunday, April 13

Guess who is back in town....

Goodness gracious!

Skandes! Dis te lank sedert ek hier my vingers aan 'n sleutelbord laat raak het. Hoog tyd om my klein hoekie van die interwebs weer aan die gang te sit!

En hier volg die nuus:

  • Ek is nou 'n "team leader" by die werk met 2 mense wat aan my rapporteer
  • Altwee die ouer kinders het teruggetrek sak en pak (alhoewel blykbaar tydelik)
  • Huis vol honde (Cherise se 3 en ons 4)
  • Klein vistenk met vissies in die kombuis
  • Voëlhokke staan sterk
  • Uiteindelik my "big screen" gekry
  • Bokwa verkoop
  • Ry nou Merc C250 CDI Coupé (my midlife crisis kar :) )
  • Het van omtrent brandarm na omtrent ok gegaan
  • Liefie het vir ons elkeen 'n Lenovo 10" tablet gekry
  • My PH het verbeter
  • E-tol is geïmplementeer, en ek bly 'n aktivis teen die hele stelsel, al is ek geforseer om 'n e-dingetjie teen my ruit te hê, omdat ek 'n "leased car" ry
  • En dis omtrent dit.


As for the rest, alive and kicking. En ek belowe om my blog bietjie meer gereeld te opdateer, en dalk 'n foto of 3 van my vuurtjies te publiseer :)

En dis al.

Nag ou Grote, hoop dit gaan goed op Planeet Plot!


Thursday, February 16

Onaanvaarbare gedrag!

Dis onaanvaarbaar dat ek so lanklaas my keel hier skoongemaak het! Genade mense, dis pure luigeite! Ek meen, ons is deur die rugby wêreldbeker (onsuksesvol), Kersfees en Nuwejaar, en ek het wraggies niks geskryf oor wat in die lewe van die Willeboer en sy kudde aangaan nie! Sleg, seg ek jou, sleg!

Maar nou ja, genoeg met myself geraas.. Hier volg 'n kort opsomming van gebeure sedert my vorige inskrywing:

  • Liefie se oogoperasies was reuse sukses, sy kan nou mooi sien en dink ek is darem nie te lelik nie.
  • Was op reunie van so 'n klein groepie skoolvrinne, en dit was great om so 'n paar van die gesigte na 'n kwarteeu weer te sien.
  • Nuwe tweedehandse tent (massief groot) gekoop vir appel en ei. (Eintlik halwe appel en kwart ei). Ingewy met visvangnaweek by Mar-Leo oord by Roodeplaatdam.
  • Jaarlikse doktersbesoek was baie bevredigend. Cholestrol is LAAG! Bloeddruk is 100% ok. Suiker is totaal onder beheer. En niks anders is buite perke nie. Dokter is actually baie gelukkig met my progress. Gewig is nog so bietjie hoog, maar met die halfton wat ek al afgeskud het, voel ek sommer goed.
  • Mal besig by die werk, maar ek hou kop bo water en dit betaal die kar en huis.
En dis basies in 'n neutedop wat die afgelope ruk in my lewe gebeur het. Nie juis baie opwindend nie, maar eerder 'n saai lewe as ene wat so opwindend is dat mens nie eens kans kry om asem te haal nie. Die ou Chinese het mos 'n "curse" gehad wat seg "May you live in interesting times"...

Groete vir eers, die werk roep.

Dag ou Grote! Mis julle!



Saturday, August 27

Dis heerlike lente, die winter's verby...

Weer nodig die velde vir jou en vir my... het ons as kinders gesing wanneer die winter einde se kant toe staan. En vandag voel geen uitsondering nie. Dis heerlik warm, ek het die swembadpomp se lekkende pyp gefieks, en die swembad mooi gelykvol getap. Nou net die Pratley Putty laat droog word en dan kyk of die ding ophou lek het. Anders maak ons maar 'n plan B. En dan moet ek maar die pomp bietjie laat hardloop sodat die son die panele kan warm maak, en die warm panele die water kan warm maak, en die water die swembad swembaar kan maak. Want ek swem nie in koue water nie. Dis teen my beginsels.

Intussen het ons duiwe uiteindelik dit reggekry om 'n eier uit te broei. Die lelikste kuiken wat ek al ooit in my lewe gesien het! Maar sal seker mooier raak soos die tyd aanstap.

En by die werk gaan dit maar soos altyd vrekbesig. At least betaal dit die verband en die kar! Willevroutjie swot hard en dit lyk heel goed. Sy gaan die week vir ooglensvervanging. Dan gaan sy actually kan sien! Ek is bietjie bekommerd daaroor, want dan gaan sy sien hoe ek regtig lyk, en sê nou sy skrik haarself half dood??

Ek word nog steeds maer, dit gaan net bietjie stadig hier in die winter want oefen en ek is nie groot maats nie, en in die winter is dit gewoonlik nog erger. At least kruip die gramme darem nog afwaarts op die skaal. En die bloeddruk is onder beheer, en die suiker is onder beheer. Wonder net oor die cholestrol. Maar dit sal ons weldra uitvind wanneer dit weer tyd is vir my jaarlikse besoek aan die kwak.

Intussen, geniet die lente, en mag die voorspoed julle verveel!

Lekker dag ou Grote! Hoop daar is 'n paar nuwe lammers op planeet Plot!

Thursday, August 11

So ry die trein

So moes my klein karretjie ingaan vir diens, 2 dae na die Gauspoor tussen Pretoria en Jozi uiteindelik oopgemaak is vir passassiers. Gelukkig is die plek van die karre reg langs die stasie in Pretoria. Gee die kar af, loop so 5 minute, en koop my goue kaart. Klim die trein, en jaag teen 'n gemaklike spoed Sandton toe. Heel gemaklik, heel gerieflik. Kom tjoef-tjaf in Sandton aan, op met al die miljoene roltrappe (omtrent 4 laaaang trappe) van onder af tot bo. Kry die regte bus en kom werk toe. So 5 minute se loop van die busstop tot by die kantoor. Middag selfde roete terug, behalwe die oplaai punt van die bus is so 300m verder weg. Geen probleem. Tjoef-tjaf en ons is terug in die Jakarandastad. Behalwe dat die stem op die trein iewers homself deurmekaar gemaak het, want toe ons reeds deur Midrand is, beduie die stem dat die volgende stop Midrand is. Klim daar mense by Centurion op, en die stem beduie weer dat die volgende stop Midrand is. Spring daai mense amper uit hulle velle om af te klim, maar gelukkig sit ons toe daar en vertel hulle dis nie die waarheid nie, daai stem is effe deurmekaar. Lekker geglimlag daaroor!

En skaars 'n week nadat die diens oopgestel is, besluit die busbestuurders om hulle stuurwiele vir die dag te los. Ek skiem dit was om die langnaweek beter te geniet, my kind.. En toe steel kabeldiewe so 'n lang stuk kabel. Die kabel wat krag vir die trein gee in Pretoria, daar van Hatfield af tot by Centurion. Moes een moerawiese kabel gewees het! :-) En daar staan die trein vir die dag. EISH! The more things change...

En die ingelsman en meisiekind is uitmekaar uit, en sy is sak en pak terug by ons. Haar hartjie seer, maar ek is seker sy sal oorleef. Nou het ons 3 klein brakkies in die huis, want Tjoklits se boetie bly ook nou by ons.

En intussen maak ek my broek se belt al kleiner en kleiner. Want die broek hou aan afval as ek die belt nie styf genoeg vasmaak nie. En dis redelik embarrassing as mens se broek voor ander mense afgly.

En die winter is darem al driekwartpad verby. Nog net so 2.5 weke en dan is dit offisieël lente. Ek hoop net die lente besef dit ook!

En dis al vir vandag.

Lekker dag ou Grote! Wanneer braai ons?

Tuesday, July 19

It's wintertime now...

Is koud. Of in die woorde van een of ander ou bekende digter: Koud is die windjie en skraal... (sal nie die res publish nie, is nie SFW nie).

Ons het die winter tot dusver nogal baie koud gekry. Nog meeste van die jare kon ons op my verjaarsdag die aand buite kuier, want dit was nie snerpend nie. Die jaar moes ons binne sit. Dit was koud. Bitterkoud. So op my 4X4 jaar. My arme liefie sit nou officially met 'n ou man :-) Al sê sy dit nie self nie.

Gewig is nog mooi besig om af te val, klere sit soos sakke. Skoonpa skimp kliphard vir my te groot klere, maar is te lekker om dit te dra en dit wil net afval.

Karavaan is toe verkoop om te help om die gate wat ontstaan het in die persoonlike resessie te stop. Darem 1 minder worry. Al die persoonlike besittings gaan haal, en die wa "bemaak" aan skuldeisers, wat hom kon verkwansel vir die uitstaande skuld.

Met vroulief en kinders gaan dit goed, so goed as wat dit kan gaan. Hulle hou mens net op jou knieë soos mens bly bid dat hulle lewendig en veilig bly.

Bokwa is op soek na heelwat TLC. Die arme ding loop en hik en snik soos 'n brandsiek donkie. Maar regmaak sal maar moet wag tot daar weer 'n bonus is. Intussen ry ek maar met die klein rollercoasterkarretjie rond, en spaar petrol en doen my deel vir die omgewing. For what it's worth...

Nie baie nuus verder nie. Inteendeel, nuus is skaarser as koekies in die weeshuis....

So, tot ek weer my gedagtes probeer neerpen: Dag, ou Grote! Bly gesond hoor?

Wednesday, May 18

X marks the spot

En so breek 18 Mei 2011 aan. En almal gaan staan weer in toue. Om kruisie te trek, siet jy.. Ek en my liefie gaat staat toe ook in so 'n baie lang ry. Gesels met algar rondom ons. Heel feestelike atmosfeer. Ongeveer 'n dagreis te perd later (of so voel dit toe) kom ons uiteindelik in die groot saal aan, en word baie mooi verduidelik wat om te doen. Doet toe so, en beweeg baie snel na die naaste watergat toe. So 'n stemmery maak mens nogal taamlik dors, jy weet!

Intussen het daar baie lank en aanhoudend nie vreeslik baie gebeur nie. Die winter het met mag en mening aangebreek. Ek en liefie ry in onse smartiekarretjies rond en spaar petrol en gee baie klein "carbon-footprints" af. Stamperig, maar gerieflik.

Liefie se meisiekind word toe gisteraand 'n statistiek van die redistribution of wealth program, teen haar sin, toe haar selfoontjie hardhandig deur voorheen-benadeelde-agtergeblewene-insittendes verwyder word (sommer 5 van hulle nodig om 1 selfoon by 'n meisiekind af te neem. Shame!) Sy was uit die aard van die saak redelik getraumatiseerd, en het maar die nag eerder onder my dak as in haar eie kaja deurgebring. Skokkend, seg ek jou, skokkend!

Andersins byt ons maar styf vas. Wit Bojaan het die groot 4X4 getref (in lewensjare) en ek staan kort agter hom. EISH! Ten minste raak die pens kleiner en die klere groter.

Nou ja, tot ek weer iets het om oor te spoeg, staan sterk!

Nag ou Grote! Geniet die kleinkind!

Friday, April 15

Reën reën lieflike reën..

Vrydagaand in Pretoria. Nat, koud, en dis nou eers middel April.. Ek sien 'n nat koue winter wat wag op ons... Koud is die windjie en skraal... Ensomeer. Rooiwyn en kaggelvuur die winter, want verwarmers is uit seders ons hierdie voorafbetaalde lektrieks ingesit het. Aan die eenkant is dit lekker, maar aan die ander kant verkies ek die somer, met son, swem, en koue bier... Ek hou nie van koudkry nie. Het nog nooit nie, sal nooit nie.

Vandag was maar rather 'n waste of makeup. 4 ure gemors om te wag dat my neukenaar besluit of hy Windows 7 se service pack wil installeer aldan nie. Moes op die ou einde terugrol na pre-Service pack instellings. EISH!

Luister Abba op Jakaranda. Is nou sommer so half nostalgies..

En dis maar hoe dit is, soos ou Steve sal sê...

Geniet die naweek, en hou duime vir die Bulle!

Nag ou Grote!


Opdatering Saterdagaand: En daar verloor die Bulle, en dit is KOUD!

Thursday, April 14

My my how time flies!

Goeie hemel! Die jaar se spoed was rather ongeskik tot dusver! Ek kon skaars asemhaal! En toe bly my spoegblok agterweë... En daar het BAIE gebeur sedert laaskeer.

Ko's kyk:

  1. Die Wit Bojaan het getrek. Bly nou nie meer om die hoek van my nie. Hy het intussen 2 karre opgebou en verkwansel. Albei Jaguars. Nice waens!
  2. Vroulief moet vir oogoperasie gaan. Sy is besig om stelselmatig totaal sig te verloor.
  3. Laaitie ook. Sy eerste operasie is komende Dinsdag 19 April. Dan een so begin Junie. Volgens die oogdokter sal hy volkome blind word as hy nie gaan nie. Katarakte in albei oë op 13. Nie pret nie.
  4. By die werk gaan dit doller as kop-af. Werk aan heerlike nuwe innovasies. Pret!
  5. My gewigsverlies is mooi op track. Het al so +- 30 kg's afgegooi sedert ek met die dokter deurmekaar was en amper gedooi het. My klere pas alweer en ek moes my belt al 4 keer verstel.
  6. Dogter en boyfriend het eie kaya gekry en bly nou op hul eie. Seëning.
  7. Prepaid lektrieks ingesit. Om die hele stad te onderhou met my se krag rekening is nie regtig lekker nie.
  8. Liefie het vir ons elkeen 'n Smart gekry. Hare is maatskappymotor en myne is maatskappymotorbyvoordeel. Die goedjies ry damn lekker!!!
  9. Bruin wa se enjin het bietjie gehik en snik, maar danksy Wit Bojaan loop die ding darem weer.
  10. 3de Terabyte hardeskyf in my se kepjoeter ingesit. Baie spasie. Not. Te veel robbiesh wat die ding volmaak.
  11. Is al wat ek aan kan dink. Maar hou die spasie dop. Ek sal meer getrou kom sit en tik hierso. Belowe.

In ieder geval, die kooi roep, en ek wil gaan rus.

Wederom! Nag, ou Grote!

Friday, January 14

Die Bos, the Bigger Loser en ander gedagtes

En so kuier ek en myne toe oor Kersvakansie by Kokoriba saam met die Wit Bojaan en sy troppie. Lekker gevakansie innie bos. En die oujaar saam met Martiens-hulle in Nelspruit. En op Nuwejaarsdag is dit op teen die randjie na die Bridal Veil valle. Dis toe dat ek besef hier is moelikgeite. Die ou dikke lyf sukkel te veel. Neem toe net daar en dan 'n besluit om die jaar van die '11 iets aan hierdie karkas te doen ten opsigte van fiksheid en gewigsverlies. Sluit toe by die Wellness gym aan. Op die dag voor die skole open en ek terug is werk toe. Begin toe op die 12de met 'n ligte oefening deur eers daai loop-sonder-om-weg-te-loop aan te tree en toe fiets te ry sonder om weg te ry. En gister weer. En nou is my doelwit om die einde van die jaar minus 40kg te wees, en daai Bridal Veil (of enige ander soortgelyke sukkel) aan te tree sonder om weer te blaas soos 'n stoomtrein wat by 'n stasie inseil. Meer oor die vakansie op 'n volgende post...

Gewig op 14/1/2011: 141.2kg.

Watch this space closely!!

Lekker dag!

Goed gaan, ou Grote!

Tuesday, October 26

Asem in, asem uit...

So kry ek toe nou my kompressor, en bekyk die ding uit sewentien verskillende hoeke. Dit was so einde September rond, as die geheue nog reg werk. (Was bietjie te besig om by die spoegblok uit te kom.) So slaap ek daai eerste aand met die ding aan en raak so 4:30 die Saterdagmore wakker... so wakker soos 'n akker, maar uitgerus. Voel skoon vreemd! Daai eerste week was heel vreemd. Elke oggend voor die wekker wakker, en dan heeldag, sonder om te wil visvang, wakker. Vroulief was natuurlik baie impressed, want sy kon begin deurslaap. Blykbaar die eerste nag het sy nie 'n oog toegemaak nie, want sy kon my nie meer hoor snork nie! Nou is sy al so gewoond aan die stilte dat sy nie eens meer vreemde inbrekergeluide in die huis hoor nie. Ek word net elke oggend lyfseer wakker, omdat ek wakker word in presies dieselfde posisie waarin ek die vorige nag my hoof neergelê het. Maar nou ja, elke sport het sy beserings.

Self moet ek erken dat ek 'n nuwe mens is. Lewenslustig, energiek, voel beter, gewiggies begin so stelselmatig minder word. Hemde wat gespan het, sit los. Belde is op hulle laaste gate. Produktiwiteit verhoog omdat ek kan konsentreer. Liefie is nie meer gestress as ek bestuur nie, want ek raak nie aan die slaap agter die stuurwiel nie.

Op die tuisfront: Liefie hoor toe by haar dokter sy moet gaan vir allerhande toetse. Kameras wat van orals af beloer wat binne aangaan. Drink toe al die nodige medikasie, en ek kry haar toe maar baie jammer, want sy mag nou nog niks eet ook nie. Vat haar die dag toe na die PlusHuis toe, boek haar in, en die gewag begin. Kom sy eventueel uit die teater, beduie vir die nursies, as sy klaar geëet het, wil sy kaya toe. Kom ek en sy eers so 6 uur by die kaya aan. En ons wag op die uitslae. Eers 'n week later laat weet hulle haar dat sy 'n skoon verslag het, niks fout nie. Die probleempies waarmee sy sukkel, is maar diabeties-verwant.

En toe sien die Wit Bobbejaan amper die Pearly Gates van naderby. Gee ons groot skrik. Kom kuier by my, en oppad huis toe wil hy gou by die Geel Apteek langs. Volgende bel sy wyfie, en beduie my in horte en stote dat die ou onwel is, vleiswa is daar om hom bymekaar te hark, en ek verstaan nie mooi nie. Ek teken prente van motorwrakke, stukke mens wat rondlê ensomeer. Jaag om haar te gaan haal, jaag en soek na waar hy is, en kry hom eventueel in die parkeer area van die winkelsentrum, in die vleiswa, sy bromponie netjies geparkeer, geen skade, net hy totaal buite aksie. Uiteinde van die saak is darem dat die ou op die been is, en weer kan aangaan met sy bestaan. Hy het intussen daai bromponie vir 'n missis bitchi verruil, so 'n plat rooi ene. Nou spandeer hy elke wakker oomblik tuis om die wa te poleer, herbou, modifiseer, transmogrifeer en in die algemeen te personaliseer. Wat is 'n goeie Afrikaanse woord vir customize?

En nou stoom ons voort na Desember toe, vakansie tyd lê en loer vir ons. Nog net die laaste hompiekedompie en ons is daar.

Tot dan, lekker lees, hou die blink kant bo, en reik na die sterre.

Dag ou Grote!

Sunday, September 12

Nothing much, really....

Baie stil paar weke seders my "ordeal". Mediese fonds het my kompressortjie goedgekeur. Nou soek ons na 'n suitable ene, wat binne die koste-raamwerk pas. Maar die blerrie goed is damn duur. Seker omdat hulle die fondse so rook. En intussen suffer ek maar voort.

Toe gaan lees ek bietjie op, en sien daar is alternatiewe tot die CPAP behandeling. Lugweg oefeninge. Keel en tong oefeninge. So ek oefen. Nog nie veel resultate opgemerk nie, maar is seker maar soos alle ander oefeninge. Mens moet maar net aanhou. Lees ek verder dat om die didgeridoo te leer speel, help ook. Sirkulêre asemhaling, maak gebruik van keelspiere, tongspiere, ensomeer. So ek wil nou begin soek na iemand wat my kan lesse gee..

En die Bulle en die Bokke stel teleur. Erg. Ek sal sommer rugby los en begin onderwater skaak kyk. Dalk meer interessant. En minder stresvol.

Intussen gebeur daar nog niks interessants nie. En dit hou aan gebeur. So, vanaand gaan ek maar vroeg inkruip, en die fliek klaarkyk.

Tot ek weer die pen opneem,

Groetnis.

Nag ou Grote!

Thursday, August 19

Van jurkies wat nie pas nie tot die pearly gates..

Beduie die dokter mos ek moet gaan vir 'n Koronêre Angiogram. En ek nip. En ek worry. Want ek weet wat dit meen. Drips, hospitaalkos, ensomeer. Nie so erg nie, vertel algar my. En ek glo hulle. En ek boek in, 5:30 op Vrydag die 13e. Kom in die saal, loop skeer dáár, trek die groen g-string broek en daai gatlose jurkie aan. En daar gaat ons. Operasie saal toe. Dok begin in my lies soek om 'n aar te kry. En daar is niks. Sy soek en soek. En nog steeds niks. En sy beduie sy sal maar blind moet ingaan en spuit dood. Maar, omdat ek Johan is, werk niks mos nie. So die dood is nie dood nie, en ek beduie so. En sy spuit weer. En dit help nie. En weer, sonder sukses. Sy beduie vir die Narkotiseur hy moet maar laat waai en my onder sit. En daar gaat ons. Volgende word ek wakker toe hulle my oge oopmaak en probeer wakker kry. En ek het seer. Nie in my lies nie, nee, my kakebeen... Ek is terug in die saal.

Ek lê doodstil soos daar vir my gesê is. Maar mens, my kakebeen pyn! Voel of ek klierkoors het! Kom die Dok later op haar rondtes. Vind ek toe uit dat ek, terwyl ek onder was, 3 keer ophou asem haal het, oor my slaap apnee. En hulle het gesukkel om my by te kry, blykbaar hardhandig my kakebeen probeer afruk om asem in my longe te kry. Suurstof saturasie het geval tot 67%. Seg die Dok dat die hart is mooi, maar operate op 55%. En daar is Pulmonêre Hipertensie teenwoordig. Wat dit meen is dat die arme hart sy gaai afdruk om bloed in my longe te kry om asem te kry. Direkte gevolg van die apnee blykbaar. Reël toe vir slaaptoetse. Hulle kom 'wire' my toe op hier teen 4 uur en beduie ek moet net normaal slaap. Wat ek toe doen soos altyd. Kom haal hulle Saterdag die bedrading en beduie ek moet wag tot Maandag. Intussen rus ek maar, drink my pille soet, kuier met die anner ouens in die saal, en eet die bietjies bietjies kos wat hulle my voorsit, siende dat ek toe sommer ook vir hoë bloeddruk, grensgeval cholestrol en tipe 2 diabetes behandel word.

Kom Maandag, en hier kom 'n girlie van die slaap labs. Help my om die masjien gesetup te kry. Eventueel gaan slaap ek, na gestoei met die masjien. Word Dinsdag wakker. Voel totaal 'n ander mens! Kom die dude van die slaap labs om die masjien te haal en vertel my dat ek aan ernstig obstruktiewe slaap apnee ly. Blykbaar hou ek tot 5 keer per uur op asemhaal, vir tot 90 sekondes per keer. En my suurstof innie bloed sak tot 30%. Nou dis pearly gates besoek tyd volgens die mense wat weet. En ek leef nog my hele lewe so.

Dok kom maak toe 'n draai, ontslaan my, met 'n shopping lys pille en opdragte.

Nou wag ek vir die mediese fonds om die aankoop van die asem masjien te magtig en te doen, want daar is nou wragtig nie daai tipe geld wat in die Willefamilie se huishouding net rondlê en wag om gebruik te word vir sulke items nie.. So ek slaap maar nou weer met rukke en stote en besef hoe totaal crappy ek nog altyd gevoel het, en gedink het dis normaal...

En ek moet gewig baie vinnig gooi. Maar sonder die slaap wat die masjien my bied, gaan dit nie maklik wees nie, omdat die liggaam se hormoonfase wat help met sulke dinge, dan nie inskop nie.

So bid maar vir my.

Nag ou Grote, hoop jy haal darem beter as ek asem!

Tuesday, August 10

Tiek-tok-hiekorie-dok

So wyle terug het liefie my aan die hand dokter toe gesleep, en die het my toe na 'n kardioloog toe verwys. Loop sien ek toe nou die hartdokter vandag. Kom daar aan, beduie die tannie ek moet sit, sy wil gesels en hoor wat gaan vir wat met my se lewe. Vertel haar van my operasies, my algemene gesondheid, my dikgatgeit, my pille, my ophou rook, my stresse, my familiegeskiedenis, my hoofklagtes, my en die Wit Bojaan se gewigsverliespoging, ensomeer.

"Trek asseblief jou hemp en skoene uit en wag vir my". Doen ek toe ook nou maar so. Sit en wag in angs en spanning. Kom vat sy eers die bloeddruk. 125/80. Not too shabby, eh Nige?

Ek lê gemaklik terug, kry allerhande bande om die enkels en polse. Jel op die borskas, en die sonar word gedoen. Daarna rustende EKG. Betree toe die skaal. Ek dog nog ek is 150, soos aangedui deur die plaaslike huisskaal, beduie haar skaal ek is eintlik op 143. Beduie die dokter toe van trappies klim. 45 keer. En ek trek weg.

Eerste 15 is nie te bad nie. So verby 25 begin ek voel dis nie meer prettig nie. Net oor 30 dink ek die einde is nou naby. By 35, stop 2 sekondes net om my asem te soek. Selle by 40. Daai laaste 5 was pure louterende hel. Ek strompel terug bed toe en suig sulke laaaaaaaaaaaaang asems in. Voel kompleet of my borskas nie genoeg asem kan inlaat nie. Nou moet ek platlê en nog 'n EKG word gedoen. Maar kyk, ek haal sulke diep diep diep asems net sodat my kleintoontjies nie in asemnood ingaan nie. Hiperventileer byna.

Begin die tannie toe mooi met my praat. Beduie dat sy kan nie sê daar is fout nie, maar sy kan ook nie sê daar is nie fout nie. Praat iets van pulmonêre druk en tekort. Of so iets. Blykbaar is die voelbare pols op my enkels en polse baie sterk vir iemand in my toestand. Die gesweldheid wat nog op my bene is, is maar grotendeels die dikgatgeit se skuld. Ek vra haar direk wat die bottom line rondom die tieker is, beduie sy eers weer ek is 'n risikogeval met al die ander goete. Vra ek weer, wat is die storie met die hart. Kan die ou tieker nog, of is dit tiekets? Beduie sy sy wil nog toetse doen. Vra ek toe maar weer. En sy erken toe maar dat sy kan nie op die grafieke of met die sonar foute observeer nie. Ritme is baie mooi ritmies en sterk. Maar ek moet gewig verloor, maar ook eers as sy klaar is met haar toetse. Polsslag na die oefen was bv. maksimum 120, en baie gou gou af na 113. Wat blykbaar nie te sleg is nie.

"Trek maar aan en kom sien my". Trek toe gou aan, en gaan sit voor. Beduie sy ek moet kom vir verdere toetse, onder andere 'n koronêre angiogram. Nou moet ek Vrydagoggend 6 uur aanmeld by die hospitaal vir die toetsie. Toetsie? Blykbaar sny hulle 'n gat net so duskant die juwele, druk 'n pyp in, stoot hom hart toe, pomp jou vol radioaktiewe juice, en neem foto's van die are om te kyk of al die are min of meer oop is. Haal dan die lot uit, en maak die gat toe. Blykbaar baie gevoelig so naby die juwele...

So nou wag ek.



Tuesday, August 3

Die groot Droogte van 2010.....

Sit ek en die Wit Bojaan laaas Saterdag en filosofeer oor die lewe met so 'n lekker lang goue koue in die klou. En ons gesels. En ons praat. Oor die lewe, geldmaak, Desember se vakansie, werk, kinders, ensomeer. So in die middel van 'n sin beduie die man "Ek is klaar." Ek dog hy meen met sy bier, so ek roep die Ingelsman vir 'n refill. "Nee", reken hy, "Ek soek nie nog ene nie. Die een is nog half, maar ek is klaar." Vra ek wat hy meen. Beduie hy van onse gewigte, en bierdrink, en minder eet, en gewigtig ligter raak, en ons moet nou die ding saam aanpak. Ek beduie ek sal net eers die kas in die yskas wil klaarmaak, voor ek my in so iets begewe. Maar nee, die man is beduidelik ernstig, en reken as mens uitstel, kan mens maar net sowel los.

Maak toe soortvan sin, en ek roep die Ingelsman nader. Beduie vir hom hy is die wenner van 2 halwe biere en die kas in die yskas. En nou, tot so die middel Desember, wanneer my verlof begin, is daar niks bier op my horison nie. Ek drink ook my pilletjies baie mooi, en wil kyk om 'n minimum van so 30kg teen Desember ligter te wees. Dit gaan 'n massiewe duik aan my pens veroorsaak, dis verseker!

Ek en Liefie stap nou met onse klein Tjoklits in die middae, soms vat ek vir ou Della saam, en ander kere die kinders se Noodles. Sommer net so parkie toe en terug stappie. Vir ontspanning, siet jy?

By die werk, nou ja, ek verdien my salaris, ek gee my pond vleis plus, en sit nog elke dag in verkeer vas. Wens daai Gautrein kom nou in beweging!

Laasweek by ou Grote hulle gaan sop eet. Die man is darem weer aan die beweeg, maar nog stadig en vol pyne. Darem is hy aan die beweeg. Dis al wat tel.

In alle geval, ek maak nou klaar ne?

Geniet hom!

Nag ou Grote!

Friday, July 9

Die einde... of is dit?

So breek die laaste naweek van die FIFA 2010 sokkerwêreldbeker aan. (Wonder of die FIFA-polisie my gaan verplig om daai sin te verander!) Holland vs. Spanje. Wie sou ooit kon dink! Deutschland, Deutschland unter alles! Die lot Duistertjies so opgetrek hulle is sommer algar huis toe.

En dit oor ou Paul die seekat. Blykbaar het hy om politieke asiel aansoek gedoen in Spanje. Waar hulle nie weer paella sal eet nie..

En ou Jackie is skullig. Morgan Freeman kom blykbaar weer 'n film hier maak. Gebaseer op Jackie Selebi se lewe. ConVictus.

Intussen nog niks weer van ou Grote se gesondheid gehoor nie. En ek bly maar bekommerd oor die ou beer.

Die lewe is maar een moerawiese rollercoaster ride. Soms wonder ek of hulle die spoor gaan voltooi!

En van Maandag af is dit back to normal op ons paaie... Padwerke word hervat, almal terug van vakansie af, so dis weer ongeorganiseerde chaos, frustrasies, tydmors, skree, skel, en dis net tot ek by die hek uit is. Dan begin die moeilikheid eers.

Ek gaat nou inkruip. Ek is gatvol moeg vir die winter.

Nag ou Grote! Word gou beter.

Sunday, July 4

Sunday Evening, all is well

We've lived through another week, the soccer quarterfinals have come and gone, dreams were made and destroyed, and we are all still alive. A weekend without rugby, though. BORING! Darem kans gehad die naweek om my garage/werkswinkel/stoorplek/speelplek te tackle, saam met die ingelsman, en Boeta. Eintlik Boeta se inspirasie met sy garage wat my oortuig het dat ek bietjie weer myself na myself toe moet bymekaarmaak, en ophou Jona speel.

Toe preek 'n gasprediker vanmore ook nog oor Jona. How apt!

Gesondheid is nog OK, voel bietjie gorerig, maar daar is nie kans vir siekword nie. Te veel werk in die pyplyn... Dan moet ek nog sometime die kardioloog loop besoek. Sal maar wag tot liefie dit organize. As for the rest, same old, same old. Wens net die winter wil vinniger wyk. Ek kry koud.

En dis maar dit.

Nag ou Grote. Beterskap!

Thursday, July 1

Koud is die windjie en skraal...

Kyk, ek is nou redelik gatvol vir winter. Dis koud. Dis nie lekker nie. Ek hou nie van winter nie. My neus kry koud. My rug kry koud. Alles is koud. Ek verkies die somer, want as mens warm kry, is daar 'n swembad om in af te koel. In die winter moet mens binne bly. En vir 'n buitelug ou soos ek is dit moord.

Bafana het dit toe, soos verwag, nie juis verby rondte 1 gemaak nie. Darem dapper probeer! Frankryk, Ingeland, en die Taljaaners is huis toe met die kous oor die kop. Kry vir julle!

My tjomma met die raasbike het ook nou 'n spoegblok begin. Die Witbobbejaan se Werf. Lees gerus. Hy raak interessante dinge kwyt.

Liefie pak alweer huis reg, nou dat ons die huishulp maar moes laat gaan. Sy is in elk geval 'n onbekostigbare luxury. En die skottelgoedwasser (die lektriekse ene) het die gees gegaf. So dit gaan weer baie gelte kos. Wat ek nie het nie. En Cherise is ook weer sonner joppie. En Schernal nog steeds. Ek voel al effe soos 'n papgeslaande slaansak.

Darem is my internet weer oppie lug. Dankie liefie vir jou baie rondbel en organize. Dit gaan nie ongesiens verby nie.

En Tjoklitsbaba word net ouliker. Nie gedink ek sal ooit kan mal raak oor 'n skootbrak nie. Maar die ding het totaal my oorrompel met haar cuteness. Auk!

Ek dink Saterdag is dit ek en my studeerkamer. Ek wil die ding regpak. Gou.

En ek sukkel met my gewigsverlies. Plato bereik, en kan nie deurbreek nie. Hartstigting 3 dae dieet gekry. Sal Maandag tot Woensdag die ding volg en kyk wat die gevolge is. Mens doen hom3 dae, eet 4 dae normaal (GESOND!!!!!) en herhaal. Soos hare sjampoe. Wash, rinse, repeat. Met 8 glase water per dag. My dieetpilletjies het mooi gewerk, maar die mediese fonds betaal hulle nie, en ek moes besluit tussen rekeninge betaal en die pille. Toe wen die rekeninge maar.

Bloeddruk is maar nog baie wisselvallig. Kan nie meer meet en reguleer nie, metertjie het ook sy gaai gesien. Bloedsuiker wissel 6.5 tot 8, sukkel daarmee ook. Geen idee van cholesterol nie. Dan moet ek nog kardioloog toe op aandrang van my dokter. Ek wag net dat liefie die afspraak maak...

Dalk moet ek maar net 'n goeie veearts kry om my maar uit te sit?

Intussen het ou Grote homself into contention geval. Ek worry oor die ou. Hy is nie meer spring chicken nie, maar hoor is min....

En dis genoeg vir eers. Vandag se inskrywing geborg deur die letter X en die kleur Groen. (Wat dit ookal mag beteken. Ek weet self nie. Weer my mind wat op sy eie mission is)

Ciao, mes amis!

Nag ou Grote. Word gou gesond!