Tuesday, August 11

Winter = luiBoer :)

Jaja ek weet. Was 'n rukkie sedert ek hier kom gorrel het. Ek blameer die koue. Niks anders nie. Net die koue. Want koue maak my voel ek wil weghol, wegkruip, kop onner die komberse.

Maar nou ja, neither here nor there soos die Ingelse seg.

So, wat het alles aangegaan in die lewe van die Willeboer en sy troppie? Nogal 'n paar interessanthede, die belangrikste is die aankoop van 'n gemotoriseerde 2wiel voertuig vir die Willevrou se dogtertjie. Sodat sy oor die weg kan kom. Nogal 'n bargain, behalwe dat die fietsie se kragopwekker nie genoeg krag wil opwek om die battery ook te verskaf van krag sodat die battery kan doen wat batterye veronderstel is om te doen nie. Maar dit daar gelaat. Ten minste het sy meer onafhanklikheid.

Verder het jors troelie die rolbalskeidsregterskursus (lekker lang woord!) suksesvol voltooi, en wag nou net vir die akkreditasiepapiere om volwaardig tot die skeidsregtersrol te kan toetree. En die kinders speel aanhoudend rolbal. Dis 'n toernooi hier en 'n toernooi daar. En ek moet hulle maar rondry klub toe, diekant toe, en daaikant toe. So is dit maar ne?

Afgelope langnaweek was darem heerlik sonnig met so 'n belofte van lente in die lug. So ons rolbalkollegas, Mike en Elaine, kon darem weer kom gesig wys, siende dat hulle nou weer wiele het. En ons braai. En braai. Sondag klub toe sodat die jongste ten minste die merkerskursus kon voltooi, siende hy nie die volledige kursus kon bywoon nie. Slaag met vlieƫnde vaandels.

Werksgewys moet ek ook nou 'n sleutel dra vir die sogenaamde trusted centre waar ons allerhande geheimsinnige goeters doen waaroor ek nie verder mag uitbrei nie, want dan sal ek almal wat hier lees, een vir een moet opspoor en fusilleer. En dit sal 'n tydsame proses wees. Maar ek werk hard, en ek geniet dit.

So is my nuus en bydraes ook nou uiteindelik klaar vir die huidige, maar soos hulle in die Koningin se taal beduie, "Watch this space".

Overs-kadovers!

Groetnis ou Grote! Ons sal weer gesels eendag.