Monday, May 25

Flu-season en hoes-hoes

Donderdag het ek begin goor voel, en liefie besluit ek moet maar eerder Vrydag tuis bly en dokter toe gaan. So is ek toe nie Vrydag werk toe nie, maar eerder dokter toe met wat ek voel die begin van 'n grieperige gevoel is. Beduie sy ek moet maar net pille kry en dan net rustig die naweek tuis bly. As if that's going to happen...

Saterdag rustig, en toe rolbal toe. Speel my game, kry my gaai mooi geskop (21-2). Merk 'n game. Liefie verloor haar game 21-1, maar vat baie lank want sy staan hulle so een-een af.. Drink 'n bier of so, en huis toe. Lekker groot vuur gemaak. En klein stukkie vleis gebraai. En Sondag sommer net sleg rondgehang en absoluut niks gedoen nie. Soos dit hoort. Want ek voel maar goor en vol notte.

En nou is dit Maandag en ek sit by die werk en my kop voel dik en die neus loop en die warmte agter my oë voel warm en ek voel nie juis baie opgewonde oor die lewe nie. So die gaan 'n lááng week wees.

Sal maar sien hoe ek dit maak :)

Groete ou Grote, en jammer om van die een brakkie te verneem. Darem is Swieties nog in die rondte..

Monday, May 18

Ek raak uit titels uit.. Ouderdom.

En so kom ons by nog 'n opdatering van wat in die lewe van Willeboer (dis nou die uwe) en sy groepie gesinslede aan die gang is. Ja ek weet dis vervelig, maar ten minste maak dit my onthou wat in my lewe gebeur en/of aangaan :)

Raait, hier is dit:

  • Word toe gevra of ek my Saterdag singles Vrydagmiddag kan speel. Kry af by werk, gaan klub toe, en kry goeie draggie slae by Marius R. 21-1. My een punt in die 2de kop opgetel. Kon daarna net nie terugkom nie. 
  • Vat Saterdag Mike en Elaine om te gaan shop. Shame, hulle sukkel erg sonder 'n kar!
  • Saterdag gemerk terwyl liefie en Riana hulle game klaarmaak, liefie verloor 21-16, wat damn goed is! Kuier lekker by die klub tot laterig. Blykbaar het 32Bn hulle reunie ook daar gehou.
  • Sondag net rustig gevat en Buries se Swarra se pc reggetjommel. In ruil vir die hek wat laasweek herstel is. 
  • My jongste en enigste beduie Donderdag dat haar liefdeslewe oppetjorts is. Duidelik moet die laaitie wat haar hartjie gebreek het, oppas. Sy knieë gaan baie ernstig verniel word as ek hom teëkom!
En dis in kort alles wat in my saai lewe gebeur het. Hopelik is daar bietjie meer opwinding in die toekoms, alhoewel ek die rustige stilte waardeer.

Groetnis! En vir jou ou Grote!

Tuesday, May 12

Weeklikse update

Ek het besluit ek wil weekliks die ding update om die hoofgebeure van die afgelope week/naweek in te sluit. So, without much further ado, hier volg die nuus soos verskaf deur die uwe, Willeboer:


  • Afgelope naweek weer by rolbal, liefie saamgevat. Sy het vir die 1ste keer punte in 'n wedstryd aangeteken. 4 skote na 8 koppe. Not too shabby! Maar toe raak haar rug seer en die opponent bietjie omgesukkel asl liefie sit. En liefie verloor konsentrasie as die rug seer word. So die game is dus uitgestel.
  • Sondag was moedersdag. En op 'n besluit deur die feeskomitee (is nou ek en liefie) het ons besluit om sommer maatjies te nooi vir pot. Hoenderpot, dit is. Gaat haal ek toe vir Mike en Elaine en Saarkie, en laai vir Blondie op. Ons bou hoenderpotte en kuier te lekker. One way om moedersdag lekker te maak! Net jammer die kids het besluit dat dit net 'n gewone dag is, en niks vir hulle ma wou doen nie. Maar nou ja, so is dit maar seker.
  • En die res van die week? Koue is in aantog, en die winter lê voor. Yuck, superyuck.
So dit was die nuus soos gelees en geskryf deur Willeboer.

Gegroet ou Grote! Sien darem jou wyfie gesels af en toe met die mense op bakkiesboek!

Thursday, May 7

Nuwe lewe.

En toe vind ek uit ek slaap nou langs 'n ouma. JP se babadogtertjie is gister gebore. Maar omdat die girl dink Liefie is die duiwel se eige bloed, is ons nie juis included in die feesvieringe nie. En JP mag slegs per besoek sy kind sien. Shame. Wonder of die kind eendag in ons lewens sal feature, en of ek ooit 'n regtige oupa vir 'n kleinkind sal kan wees, kompleet met die  bederf, en alles.

Maak nogal iewers diep binne effens seer. Maar nou ja, dis maar seker hoe die lewe is.

Voel soms ek wil vir Liefie vat en verdwyn na ver weg waar ons net sonder kontak van almal kan wees en waar niemand ons binneste kan omkrap nie. Maar dis ons nie beskore nie. Verantwoordelike ouers, dis wat ons is.

Groetnis ou Grote, van een oupa na 'n ander. Ten minste het jy meer geredelik toegang tot jou kleinkinders, ne?

Tuesday, May 5

Bolle rol en lankstaan

So breek 1 Mei toe aan, en Cherise moet gaan kompetisie speel. Ons almal tou maar af Wingate toe en sit rustig. Volgende oomblik beduie die mense daar hulle soek merkers. Ek seg nog so ewe maar my skoene is nie reg nie, toe work ek vertel maar my skoene sal nie probleme veroorsaak nie, ek moet merk. En daar is ek pens en pote in die son. Heeldag. Met 'n denim, bruinerige hemp en my werkskoene. En die son skyn. Darem my sonbril byderhand. En ek staan en ek merk. 3 rondtes. In die son. Kry darem na elke game 'n bier vir my moeite :) Einde van die dag is ek stokflou. Word vertel ek moet die Saterdag ook merk, asjoublief. Trek net whites aan ook dankie.

Kom by die huis, maar sommer net hammies en gaan rus. Pootuit.

Saterdag. Vroeg op. Whites aan. Wingate toe. Liefie bly tuis, sy wil leer. Ek en Brad en Cherise is op die baan, ek en Brad merk, sy rol. 2 lang games. Darem die keer 'n hoed saamgevat.

Na die games lekker geginnegaap saam met die rollers, en toe PHSOB klub toe vir die finals. En van daar af huis toe. Sommer net pops en chips vir aandete. Te moeg om nog te dink aan kosmaak!

Kom loer Marius, Joy en Blondie in om Cherise (wat 'n hele paar doppe sterk staan) terug te bring. En kuier. Tot laat.

Sondag net gehang. Potjie gemaak en gerus. Soos ek die hele naweek wou. Maar nou ja, dit was lekker. Uitputtend, maar lekker.

Moral of the story, as mens na enige rolbal game toe gaan, trek maar verkieslik jou whites aan, mens weet nooit wanneer jy betrek word vir 'n game of om te merk nie..

Groetnis ou Grote. Neels wil hê ek moet bietjie kom inloer. Sal maar so maak, of hoe?