Tuesday, August 10

Tiek-tok-hiekorie-dok

So wyle terug het liefie my aan die hand dokter toe gesleep, en die het my toe na 'n kardioloog toe verwys. Loop sien ek toe nou die hartdokter vandag. Kom daar aan, beduie die tannie ek moet sit, sy wil gesels en hoor wat gaan vir wat met my se lewe. Vertel haar van my operasies, my algemene gesondheid, my dikgatgeit, my pille, my ophou rook, my stresse, my familiegeskiedenis, my hoofklagtes, my en die Wit Bojaan se gewigsverliespoging, ensomeer.

"Trek asseblief jou hemp en skoene uit en wag vir my". Doen ek toe ook nou maar so. Sit en wag in angs en spanning. Kom vat sy eers die bloeddruk. 125/80. Not too shabby, eh Nige?

Ek lê gemaklik terug, kry allerhande bande om die enkels en polse. Jel op die borskas, en die sonar word gedoen. Daarna rustende EKG. Betree toe die skaal. Ek dog nog ek is 150, soos aangedui deur die plaaslike huisskaal, beduie haar skaal ek is eintlik op 143. Beduie die dokter toe van trappies klim. 45 keer. En ek trek weg.

Eerste 15 is nie te bad nie. So verby 25 begin ek voel dis nie meer prettig nie. Net oor 30 dink ek die einde is nou naby. By 35, stop 2 sekondes net om my asem te soek. Selle by 40. Daai laaste 5 was pure louterende hel. Ek strompel terug bed toe en suig sulke laaaaaaaaaaaaang asems in. Voel kompleet of my borskas nie genoeg asem kan inlaat nie. Nou moet ek platlê en nog 'n EKG word gedoen. Maar kyk, ek haal sulke diep diep diep asems net sodat my kleintoontjies nie in asemnood ingaan nie. Hiperventileer byna.

Begin die tannie toe mooi met my praat. Beduie dat sy kan nie sê daar is fout nie, maar sy kan ook nie sê daar is nie fout nie. Praat iets van pulmonêre druk en tekort. Of so iets. Blykbaar is die voelbare pols op my enkels en polse baie sterk vir iemand in my toestand. Die gesweldheid wat nog op my bene is, is maar grotendeels die dikgatgeit se skuld. Ek vra haar direk wat die bottom line rondom die tieker is, beduie sy eers weer ek is 'n risikogeval met al die ander goete. Vra ek weer, wat is die storie met die hart. Kan die ou tieker nog, of is dit tiekets? Beduie sy sy wil nog toetse doen. Vra ek toe maar weer. En sy erken toe maar dat sy kan nie op die grafieke of met die sonar foute observeer nie. Ritme is baie mooi ritmies en sterk. Maar ek moet gewig verloor, maar ook eers as sy klaar is met haar toetse. Polsslag na die oefen was bv. maksimum 120, en baie gou gou af na 113. Wat blykbaar nie te sleg is nie.

"Trek maar aan en kom sien my". Trek toe gou aan, en gaan sit voor. Beduie sy ek moet kom vir verdere toetse, onder andere 'n koronêre angiogram. Nou moet ek Vrydagoggend 6 uur aanmeld by die hospitaal vir die toetsie. Toetsie? Blykbaar sny hulle 'n gat net so duskant die juwele, druk 'n pyp in, stoot hom hart toe, pomp jou vol radioaktiewe juice, en neem foto's van die are om te kyk of al die are min of meer oop is. Haal dan die lot uit, en maak die gat toe. Blykbaar baie gevoelig so naby die juwele...

So nou wag ek.



No comments: