Monday, June 22

Goeiemore, hier volg die nuus gelees, wel geskryf deur die Willeboer

Lekker deurmekaar tye. Laasweek, so op die Vrydag, word by die soutmyne beduie dat daar 'n probleem met onse produkte is, en dat die probleem nie by ons ontstaan het nie, maar by die verskaffers van die produk, en ons in noodmodus moet opereer totdat die probleem hopelik spoedig uitgesorteer is. Vrolike chaos!

So liefie was toe af siek Donderdag, met die hollende siekte, en is toe na die kwak toe, wat beduie sy moet maar lekker vakansie hou vir die res van die week. Oudste dogter blaf so dat hulle haar maar veearts toe neem. Oulike staatsinstelling in Doornpoort ontdek wat nogal heel skaflik funksioneer! Toe is sy al blaffende tuis ook vir 'n improptu langnaweek.

Kom Saterdag, hang rond tuis, vang nie veel aan nie. Vinnig bank toe saam met liefie, en toe maar huiswaarts. Torien se laaitie kom haal haar blikbrein wat ek uitgesorteer het. En dis maar die oggend in 'n neutedop. Besluit toe is dalk tyd om bietjie bolle te loop rol. Liefie en Brad kom toe saam. Daar aangekom besluit hy om maar 'n sosiale rol te rol, en ek en liefie rol maar oefen tot sy moeg is. Kom Johan Barnard en rol verder saam met my 'n klompie bolle. Terug kaya toe, braai 'n varkie, maar niemand is juis honger nie. Dalk te koud? En Eskom skud weer die lading af. FloppenFlippetyFlok.

Sondag is Vadersdag. Wat in ons huis nie veel beteken nie. Eers na liefie vir Brad onthou, maak hy darem 'n koffietjie. Cherise bied darem aan om die kombuis op te ruim en Brad maak roereiers op toast. Danielle kom wys gesig om Pa te kom happy daddydag toewens, so vir 5 minute. Vaar ek maar winkels toe om rakhersteltoerusting aan te skaf. Die hangkaste in ons kamer se rakke wil nie meer rak nie, en ek moet maar inspring. So op Vadersdag. Fieks toe die lot. Tussendeur herlaai ek liefie se blikbrein, want die ding wil nie meer nie. Maak spaghetti a la Johan vir Vadersdagete. Bederf myself jy siet. En spandeer die middag maar deur die blikbrein klaar te laai. Stil aandjie, behalwe weer vir Eksdom, ekskuus, Eskom se gereelde (soos klokslag) ladingskudding. Met gepaardgaande flou verskonings. Al mooi gatvol daarvoor, want petrol vir die jinneryter kos geld!

Nuwe week, sal sien wat hou die week in.

Groetnis ou Grote. Hopelik skud julle krag op Planeet Plot nie so baie nie!

Thursday, June 18

En nog 'n week ...

Bietjie laat, maar darem. En 'n heel skaflike week, met 'n langnaweek in. Laasweek het nie veel gebeur nie, en dit het aanhoudend gebeur. Ek geniet daai rooi kar nog steeds. En gee nie om vir verkeersknope nie. Sit toe mar verlof in vir Maandag die 15e, omdat Dinsdag 'n publieke vakansiedag was. Saterdag net mooi nie veel gedoen nie. Behalwe om te kyk hoe die Bulle weereens verloor. Eina! Sondag vir Brad gevat om sy rolbal game te gaan speel, en rol toe maar 'n paar balle. Braai toe sommer by die klub ook. Maandag net laag gehang en movies gekyk. Dinsdag vroeg op, kids Meyerspark rolbal toe gevat vir 'n fund raiser. Vat toe Mike en Elaine om te gaan shop. Terug huis toe, liefie nie lekker nie, so toe pik ek alleen terug Meyerspark toe. Kom daar, en net so besluit die prez, Marius, dat ek in sy plek derde moet speel vir die middag se 21 koppe. Sjoe! Wat 'n lawwe spul. Leen toe 'n paar Drakes, en verstaan nie mooi van die reguitlopers nie. Kom toe eventueel by en rol die laaste paar koppe redelik skaflik :) Moeg en lyfseer terug huis toe. So die langnaweek was lekker. En uitputtend. Maar grotendeels baie lekker.

En die winter word kouer. En ek geniet dit minder. Baie minder.

Groetnis ou Grote. Koud daar by julle ook?

Tuesday, June 9

Van kuier naweke en nuwe karre

So is nog 'n week daarmee heen en is dit nou tyd vir die opdatering oor wat in die Willetroppie se lewens aangaan. En wat 'n week was dit nie. So tussen die hoes en blaf en griep en begin koudkry het ons darem oorleef. Hoogtepunte was:

  • Vrydagaand by Mamma en Lulu 'n draai gaan maak om Amanda se stofie vir Willie deur te neem.
  • Saterdag vir Cherise gevat dat sy haar oor kan laat deurboor, toe liefie gevat om 'n kleertjie te loop koop, toe die Willetroppie gevat dat my kar deeglik gewas kan word.
  • Saterdagaand gaan loop kyk ons Treurgrod van Steve. En dis 'n fliek wat jou onder die gat skop en sê dat jy moet wakker word en die koffiebone ruik. Ons land is in 'n krisis, met die plaasmoorde. En dis nie 'n grap nie, dis ernstig.
  • Sondag vroeg op, algar klub toe. Liefie speel singles game en Cherise pairs. Ek merk en Brad leer. En na die tyd kuier ons weer onsself mis. Soos gewoonlik. 
  • En gister, Maandag, eish. My nuwe wa. Skelrooi, ok, Jupiter Red CLA220 CDI. MOOI. Baie baie mooi. Kompleet met sondak, satnav, en alle bells en whistles om 'n kar 'n motor te maak. Dankie liefie, die Willeboer gaan flippen lekker ry vir die volgende 10 maande!
  • En daar was alweer 'n ligte familietwis oor Mamma se interwebs wat deur Edupac betaal word en wat blykbaar bietjie rof oor die limiete was. En almal word beskuldig. Draai toe uit dat dit Windows se auto-updates was wat bietjie groot data gedownload het. Maar nou ja, die familie is uniek. 
As for the rest, ek wens net ek kan van die griep ontslae raak, maar dit sal seker nog gebeur. En toe kry ek inflammasie van my linkerskouer (alweer) en dis eina. Maar handevol Ibuprofen en ons is weer amper fighting fit. 

En so lyk die rooi wa..




Mooi né.

Groetnis ou Grote, Mis jou!


Monday, June 1

Oupa met 'n baard

Soos ons weet, slaap ek mos nou langs 'n ouma. En toe kry ons die geleentheid om die naweek te gaan kyk hoe lyk 'n kleinkind. Maar ek loop die storie vooruit...

In laasweek reël liefie toe nou dat ons die afgelope Sondag sal deurry Germiston toe, om klein Mine Janke te gaan loop ontmoet. Dis nou liefie se laaitie JP se dogtertjie by sy voormalige meisie wat hy nog steeds aan-en-af sien. Of so iets. Ons kry foto's van die kleinding en ek sien liefie se hart is baie swaar omdat sy nog nie die kleinding kon vashou nie. Maar so reël sy toe met Chauné en die se moeder (waar klein Mine'tjie bly) dat ons Sondag kan deurkom. So beek die naweek aan. En Saterdag gaan koop ons eers grootmaat kruideniersware aan vir die huis.

Maar voor die kopery stop ons eers by FinForum, want liefie moet gou bank toe. Maar daar was te 'n lang ry, en sy kom terug, en klim sommer by voorbaat in die verkeerde kar in, en beduie vir die geskokte man agter die stuurwiel iets van "Eff dit, die effen ry is te lank! En waar is die effen kinders?" En by verdere ondersoek besef sy die man is baardloos en die kar sit anders. Sy loer na hom en sê in 'n oomblik van wysheid "Jy is nie Johan nie. Skies!" en spring uit met 'n vaart terug om die bakkie om by ons in die kar aan te sluit, waar sy veronderstel is om te wees. Die gelag was onbeheerbaar rof vir die volgende 15-20 minute! Toe Makro toe, koop die kar tjokvol. Terug kaja toe, ontlaai die kar, terug vleismark toe, koop genoeg vleis vir 'n oormag. Kom Beukes-clan daar aan vir die braai, soos bespreek. Kuier baie lekker, maar hier deur die loop van die aand sien ek liefie is nie meer so orraait nie. Beduie sy dat sy baie opsien na Sondag, en vir maatjies Elaine en Mike gevra het om saam te gaan.

En Sondag breek aan. Ek is vroeg op, laai Brad af vir sy rolbal game, en daarna vir Cherise. Ons wikkel deur, tel Mike en Elaine op, en gaat na oupa Tony hulle toe. Sit en drink 'n "dutch-courage", en so kort voor 12 wikkel ons deur om Mine'tjie te loop ontmoet.

Liefie is so overwhelmed, sy vergeet om weg te hol of te huil. En sy onthou soortvan hoe om 'n baba vas te hou :) Die oupa in my kom sterk na vore en ek hou vas soos 'n ou hand. Voer, skud, skommel, en koer. Elaine neem net foto's soos 'n wafferse paparazzo, om die oomblik te verewig. En my hart swel soos nog iets.

En te gou is ons kuier-uur verby. Ons groet, en ry in stilte terug. Elkeen met eie gedagtes.

En dis hoe die oupa met die baard sy klein knoppie ontmoet het. Plekkie in my hart.



Oupa met 'n baard. Soos oupa's moet hê.

Groetnis ou Grote, Van oupa tot oupa.