Thursday, August 19

Van jurkies wat nie pas nie tot die pearly gates..

Beduie die dokter mos ek moet gaan vir 'n Koronêre Angiogram. En ek nip. En ek worry. Want ek weet wat dit meen. Drips, hospitaalkos, ensomeer. Nie so erg nie, vertel algar my. En ek glo hulle. En ek boek in, 5:30 op Vrydag die 13e. Kom in die saal, loop skeer dáár, trek die groen g-string broek en daai gatlose jurkie aan. En daar gaat ons. Operasie saal toe. Dok begin in my lies soek om 'n aar te kry. En daar is niks. Sy soek en soek. En nog steeds niks. En sy beduie sy sal maar blind moet ingaan en spuit dood. Maar, omdat ek Johan is, werk niks mos nie. So die dood is nie dood nie, en ek beduie so. En sy spuit weer. En dit help nie. En weer, sonder sukses. Sy beduie vir die Narkotiseur hy moet maar laat waai en my onder sit. En daar gaat ons. Volgende word ek wakker toe hulle my oge oopmaak en probeer wakker kry. En ek het seer. Nie in my lies nie, nee, my kakebeen... Ek is terug in die saal.

Ek lê doodstil soos daar vir my gesê is. Maar mens, my kakebeen pyn! Voel of ek klierkoors het! Kom die Dok later op haar rondtes. Vind ek toe uit dat ek, terwyl ek onder was, 3 keer ophou asem haal het, oor my slaap apnee. En hulle het gesukkel om my by te kry, blykbaar hardhandig my kakebeen probeer afruk om asem in my longe te kry. Suurstof saturasie het geval tot 67%. Seg die Dok dat die hart is mooi, maar operate op 55%. En daar is Pulmonêre Hipertensie teenwoordig. Wat dit meen is dat die arme hart sy gaai afdruk om bloed in my longe te kry om asem te kry. Direkte gevolg van die apnee blykbaar. Reël toe vir slaaptoetse. Hulle kom 'wire' my toe op hier teen 4 uur en beduie ek moet net normaal slaap. Wat ek toe doen soos altyd. Kom haal hulle Saterdag die bedrading en beduie ek moet wag tot Maandag. Intussen rus ek maar, drink my pille soet, kuier met die anner ouens in die saal, en eet die bietjies bietjies kos wat hulle my voorsit, siende dat ek toe sommer ook vir hoë bloeddruk, grensgeval cholestrol en tipe 2 diabetes behandel word.

Kom Maandag, en hier kom 'n girlie van die slaap labs. Help my om die masjien gesetup te kry. Eventueel gaan slaap ek, na gestoei met die masjien. Word Dinsdag wakker. Voel totaal 'n ander mens! Kom die dude van die slaap labs om die masjien te haal en vertel my dat ek aan ernstig obstruktiewe slaap apnee ly. Blykbaar hou ek tot 5 keer per uur op asemhaal, vir tot 90 sekondes per keer. En my suurstof innie bloed sak tot 30%. Nou dis pearly gates besoek tyd volgens die mense wat weet. En ek leef nog my hele lewe so.

Dok kom maak toe 'n draai, ontslaan my, met 'n shopping lys pille en opdragte.

Nou wag ek vir die mediese fonds om die aankoop van die asem masjien te magtig en te doen, want daar is nou wragtig nie daai tipe geld wat in die Willefamilie se huishouding net rondlê en wag om gebruik te word vir sulke items nie.. So ek slaap maar nou weer met rukke en stote en besef hoe totaal crappy ek nog altyd gevoel het, en gedink het dis normaal...

En ek moet gewig baie vinnig gooi. Maar sonder die slaap wat die masjien my bied, gaan dit nie maklik wees nie, omdat die liggaam se hormoonfase wat help met sulke dinge, dan nie inskop nie.

So bid maar vir my.

Nag ou Grote, hoop jy haal darem beter as ek asem!

Tuesday, August 10

Tiek-tok-hiekorie-dok

So wyle terug het liefie my aan die hand dokter toe gesleep, en die het my toe na 'n kardioloog toe verwys. Loop sien ek toe nou die hartdokter vandag. Kom daar aan, beduie die tannie ek moet sit, sy wil gesels en hoor wat gaan vir wat met my se lewe. Vertel haar van my operasies, my algemene gesondheid, my dikgatgeit, my pille, my ophou rook, my stresse, my familiegeskiedenis, my hoofklagtes, my en die Wit Bojaan se gewigsverliespoging, ensomeer.

"Trek asseblief jou hemp en skoene uit en wag vir my". Doen ek toe ook nou maar so. Sit en wag in angs en spanning. Kom vat sy eers die bloeddruk. 125/80. Not too shabby, eh Nige?

Ek lê gemaklik terug, kry allerhande bande om die enkels en polse. Jel op die borskas, en die sonar word gedoen. Daarna rustende EKG. Betree toe die skaal. Ek dog nog ek is 150, soos aangedui deur die plaaslike huisskaal, beduie haar skaal ek is eintlik op 143. Beduie die dokter toe van trappies klim. 45 keer. En ek trek weg.

Eerste 15 is nie te bad nie. So verby 25 begin ek voel dis nie meer prettig nie. Net oor 30 dink ek die einde is nou naby. By 35, stop 2 sekondes net om my asem te soek. Selle by 40. Daai laaste 5 was pure louterende hel. Ek strompel terug bed toe en suig sulke laaaaaaaaaaaaang asems in. Voel kompleet of my borskas nie genoeg asem kan inlaat nie. Nou moet ek platlê en nog 'n EKG word gedoen. Maar kyk, ek haal sulke diep diep diep asems net sodat my kleintoontjies nie in asemnood ingaan nie. Hiperventileer byna.

Begin die tannie toe mooi met my praat. Beduie dat sy kan nie sê daar is fout nie, maar sy kan ook nie sê daar is nie fout nie. Praat iets van pulmonêre druk en tekort. Of so iets. Blykbaar is die voelbare pols op my enkels en polse baie sterk vir iemand in my toestand. Die gesweldheid wat nog op my bene is, is maar grotendeels die dikgatgeit se skuld. Ek vra haar direk wat die bottom line rondom die tieker is, beduie sy eers weer ek is 'n risikogeval met al die ander goete. Vra ek weer, wat is die storie met die hart. Kan die ou tieker nog, of is dit tiekets? Beduie sy sy wil nog toetse doen. Vra ek toe maar weer. En sy erken toe maar dat sy kan nie op die grafieke of met die sonar foute observeer nie. Ritme is baie mooi ritmies en sterk. Maar ek moet gewig verloor, maar ook eers as sy klaar is met haar toetse. Polsslag na die oefen was bv. maksimum 120, en baie gou gou af na 113. Wat blykbaar nie te sleg is nie.

"Trek maar aan en kom sien my". Trek toe gou aan, en gaan sit voor. Beduie sy ek moet kom vir verdere toetse, onder andere 'n koronêre angiogram. Nou moet ek Vrydagoggend 6 uur aanmeld by die hospitaal vir die toetsie. Toetsie? Blykbaar sny hulle 'n gat net so duskant die juwele, druk 'n pyp in, stoot hom hart toe, pomp jou vol radioaktiewe juice, en neem foto's van die are om te kyk of al die are min of meer oop is. Haal dan die lot uit, en maak die gat toe. Blykbaar baie gevoelig so naby die juwele...

So nou wag ek.



Tuesday, August 3

Die groot Droogte van 2010.....

Sit ek en die Wit Bojaan laaas Saterdag en filosofeer oor die lewe met so 'n lekker lang goue koue in die klou. En ons gesels. En ons praat. Oor die lewe, geldmaak, Desember se vakansie, werk, kinders, ensomeer. So in die middel van 'n sin beduie die man "Ek is klaar." Ek dog hy meen met sy bier, so ek roep die Ingelsman vir 'n refill. "Nee", reken hy, "Ek soek nie nog ene nie. Die een is nog half, maar ek is klaar." Vra ek wat hy meen. Beduie hy van onse gewigte, en bierdrink, en minder eet, en gewigtig ligter raak, en ons moet nou die ding saam aanpak. Ek beduie ek sal net eers die kas in die yskas wil klaarmaak, voor ek my in so iets begewe. Maar nee, die man is beduidelik ernstig, en reken as mens uitstel, kan mens maar net sowel los.

Maak toe soortvan sin, en ek roep die Ingelsman nader. Beduie vir hom hy is die wenner van 2 halwe biere en die kas in die yskas. En nou, tot so die middel Desember, wanneer my verlof begin, is daar niks bier op my horison nie. Ek drink ook my pilletjies baie mooi, en wil kyk om 'n minimum van so 30kg teen Desember ligter te wees. Dit gaan 'n massiewe duik aan my pens veroorsaak, dis verseker!

Ek en Liefie stap nou met onse klein Tjoklits in die middae, soms vat ek vir ou Della saam, en ander kere die kinders se Noodles. Sommer net so parkie toe en terug stappie. Vir ontspanning, siet jy?

By die werk, nou ja, ek verdien my salaris, ek gee my pond vleis plus, en sit nog elke dag in verkeer vas. Wens daai Gautrein kom nou in beweging!

Laasweek by ou Grote hulle gaan sop eet. Die man is darem weer aan die beweeg, maar nog stadig en vol pyne. Darem is hy aan die beweeg. Dis al wat tel.

In alle geval, ek maak nou klaar ne?

Geniet hom!

Nag ou Grote!