Saturday, August 27

Dis heerlike lente, die winter's verby...

Weer nodig die velde vir jou en vir my... het ons as kinders gesing wanneer die winter einde se kant toe staan. En vandag voel geen uitsondering nie. Dis heerlik warm, ek het die swembadpomp se lekkende pyp gefieks, en die swembad mooi gelykvol getap. Nou net die Pratley Putty laat droog word en dan kyk of die ding ophou lek het. Anders maak ons maar 'n plan B. En dan moet ek maar die pomp bietjie laat hardloop sodat die son die panele kan warm maak, en die warm panele die water kan warm maak, en die water die swembad swembaar kan maak. Want ek swem nie in koue water nie. Dis teen my beginsels.

Intussen het ons duiwe uiteindelik dit reggekry om 'n eier uit te broei. Die lelikste kuiken wat ek al ooit in my lewe gesien het! Maar sal seker mooier raak soos die tyd aanstap.

En by die werk gaan dit maar soos altyd vrekbesig. At least betaal dit die verband en die kar! Willevroutjie swot hard en dit lyk heel goed. Sy gaan die week vir ooglensvervanging. Dan gaan sy actually kan sien! Ek is bietjie bekommerd daaroor, want dan gaan sy sien hoe ek regtig lyk, en sê nou sy skrik haarself half dood??

Ek word nog steeds maer, dit gaan net bietjie stadig hier in die winter want oefen en ek is nie groot maats nie, en in die winter is dit gewoonlik nog erger. At least kruip die gramme darem nog afwaarts op die skaal. En die bloeddruk is onder beheer, en die suiker is onder beheer. Wonder net oor die cholestrol. Maar dit sal ons weldra uitvind wanneer dit weer tyd is vir my jaarlikse besoek aan die kwak.

Intussen, geniet die lente, en mag die voorspoed julle verveel!

Lekker dag ou Grote! Hoop daar is 'n paar nuwe lammers op planeet Plot!

Thursday, August 11

So ry die trein

So moes my klein karretjie ingaan vir diens, 2 dae na die Gauspoor tussen Pretoria en Jozi uiteindelik oopgemaak is vir passassiers. Gelukkig is die plek van die karre reg langs die stasie in Pretoria. Gee die kar af, loop so 5 minute, en koop my goue kaart. Klim die trein, en jaag teen 'n gemaklike spoed Sandton toe. Heel gemaklik, heel gerieflik. Kom tjoef-tjaf in Sandton aan, op met al die miljoene roltrappe (omtrent 4 laaaang trappe) van onder af tot bo. Kry die regte bus en kom werk toe. So 5 minute se loop van die busstop tot by die kantoor. Middag selfde roete terug, behalwe die oplaai punt van die bus is so 300m verder weg. Geen probleem. Tjoef-tjaf en ons is terug in die Jakarandastad. Behalwe dat die stem op die trein iewers homself deurmekaar gemaak het, want toe ons reeds deur Midrand is, beduie die stem dat die volgende stop Midrand is. Klim daar mense by Centurion op, en die stem beduie weer dat die volgende stop Midrand is. Spring daai mense amper uit hulle velle om af te klim, maar gelukkig sit ons toe daar en vertel hulle dis nie die waarheid nie, daai stem is effe deurmekaar. Lekker geglimlag daaroor!

En skaars 'n week nadat die diens oopgestel is, besluit die busbestuurders om hulle stuurwiele vir die dag te los. Ek skiem dit was om die langnaweek beter te geniet, my kind.. En toe steel kabeldiewe so 'n lang stuk kabel. Die kabel wat krag vir die trein gee in Pretoria, daar van Hatfield af tot by Centurion. Moes een moerawiese kabel gewees het! :-) En daar staan die trein vir die dag. EISH! The more things change...

En die ingelsman en meisiekind is uitmekaar uit, en sy is sak en pak terug by ons. Haar hartjie seer, maar ek is seker sy sal oorleef. Nou het ons 3 klein brakkies in die huis, want Tjoklits se boetie bly ook nou by ons.

En intussen maak ek my broek se belt al kleiner en kleiner. Want die broek hou aan afval as ek die belt nie styf genoeg vasmaak nie. En dis redelik embarrassing as mens se broek voor ander mense afgly.

En die winter is darem al driekwartpad verby. Nog net so 2.5 weke en dan is dit offisieël lente. Ek hoop net die lente besef dit ook!

En dis al vir vandag.

Lekker dag ou Grote! Wanneer braai ons?