Thursday, August 19

Van jurkies wat nie pas nie tot die pearly gates..

Beduie die dokter mos ek moet gaan vir 'n Koronêre Angiogram. En ek nip. En ek worry. Want ek weet wat dit meen. Drips, hospitaalkos, ensomeer. Nie so erg nie, vertel algar my. En ek glo hulle. En ek boek in, 5:30 op Vrydag die 13e. Kom in die saal, loop skeer dáár, trek die groen g-string broek en daai gatlose jurkie aan. En daar gaat ons. Operasie saal toe. Dok begin in my lies soek om 'n aar te kry. En daar is niks. Sy soek en soek. En nog steeds niks. En sy beduie sy sal maar blind moet ingaan en spuit dood. Maar, omdat ek Johan is, werk niks mos nie. So die dood is nie dood nie, en ek beduie so. En sy spuit weer. En dit help nie. En weer, sonder sukses. Sy beduie vir die Narkotiseur hy moet maar laat waai en my onder sit. En daar gaat ons. Volgende word ek wakker toe hulle my oge oopmaak en probeer wakker kry. En ek het seer. Nie in my lies nie, nee, my kakebeen... Ek is terug in die saal.

Ek lê doodstil soos daar vir my gesê is. Maar mens, my kakebeen pyn! Voel of ek klierkoors het! Kom die Dok later op haar rondtes. Vind ek toe uit dat ek, terwyl ek onder was, 3 keer ophou asem haal het, oor my slaap apnee. En hulle het gesukkel om my by te kry, blykbaar hardhandig my kakebeen probeer afruk om asem in my longe te kry. Suurstof saturasie het geval tot 67%. Seg die Dok dat die hart is mooi, maar operate op 55%. En daar is Pulmonêre Hipertensie teenwoordig. Wat dit meen is dat die arme hart sy gaai afdruk om bloed in my longe te kry om asem te kry. Direkte gevolg van die apnee blykbaar. Reël toe vir slaaptoetse. Hulle kom 'wire' my toe op hier teen 4 uur en beduie ek moet net normaal slaap. Wat ek toe doen soos altyd. Kom haal hulle Saterdag die bedrading en beduie ek moet wag tot Maandag. Intussen rus ek maar, drink my pille soet, kuier met die anner ouens in die saal, en eet die bietjies bietjies kos wat hulle my voorsit, siende dat ek toe sommer ook vir hoë bloeddruk, grensgeval cholestrol en tipe 2 diabetes behandel word.

Kom Maandag, en hier kom 'n girlie van die slaap labs. Help my om die masjien gesetup te kry. Eventueel gaan slaap ek, na gestoei met die masjien. Word Dinsdag wakker. Voel totaal 'n ander mens! Kom die dude van die slaap labs om die masjien te haal en vertel my dat ek aan ernstig obstruktiewe slaap apnee ly. Blykbaar hou ek tot 5 keer per uur op asemhaal, vir tot 90 sekondes per keer. En my suurstof innie bloed sak tot 30%. Nou dis pearly gates besoek tyd volgens die mense wat weet. En ek leef nog my hele lewe so.

Dok kom maak toe 'n draai, ontslaan my, met 'n shopping lys pille en opdragte.

Nou wag ek vir die mediese fonds om die aankoop van die asem masjien te magtig en te doen, want daar is nou wragtig nie daai tipe geld wat in die Willefamilie se huishouding net rondlê en wag om gebruik te word vir sulke items nie.. So ek slaap maar nou weer met rukke en stote en besef hoe totaal crappy ek nog altyd gevoel het, en gedink het dis normaal...

En ek moet gewig baie vinnig gooi. Maar sonder die slaap wat die masjien my bied, gaan dit nie maklik wees nie, omdat die liggaam se hormoonfase wat help met sulke dinge, dan nie inskop nie.

So bid maar vir my.

Nag ou Grote, hoop jy haal darem beter as ek asem!

No comments: