Thursday, August 11

So ry die trein

So moes my klein karretjie ingaan vir diens, 2 dae na die Gauspoor tussen Pretoria en Jozi uiteindelik oopgemaak is vir passassiers. Gelukkig is die plek van die karre reg langs die stasie in Pretoria. Gee die kar af, loop so 5 minute, en koop my goue kaart. Klim die trein, en jaag teen 'n gemaklike spoed Sandton toe. Heel gemaklik, heel gerieflik. Kom tjoef-tjaf in Sandton aan, op met al die miljoene roltrappe (omtrent 4 laaaang trappe) van onder af tot bo. Kry die regte bus en kom werk toe. So 5 minute se loop van die busstop tot by die kantoor. Middag selfde roete terug, behalwe die oplaai punt van die bus is so 300m verder weg. Geen probleem. Tjoef-tjaf en ons is terug in die Jakarandastad. Behalwe dat die stem op die trein iewers homself deurmekaar gemaak het, want toe ons reeds deur Midrand is, beduie die stem dat die volgende stop Midrand is. Klim daar mense by Centurion op, en die stem beduie weer dat die volgende stop Midrand is. Spring daai mense amper uit hulle velle om af te klim, maar gelukkig sit ons toe daar en vertel hulle dis nie die waarheid nie, daai stem is effe deurmekaar. Lekker geglimlag daaroor!

En skaars 'n week nadat die diens oopgestel is, besluit die busbestuurders om hulle stuurwiele vir die dag te los. Ek skiem dit was om die langnaweek beter te geniet, my kind.. En toe steel kabeldiewe so 'n lang stuk kabel. Die kabel wat krag vir die trein gee in Pretoria, daar van Hatfield af tot by Centurion. Moes een moerawiese kabel gewees het! :-) En daar staan die trein vir die dag. EISH! The more things change...

En die ingelsman en meisiekind is uitmekaar uit, en sy is sak en pak terug by ons. Haar hartjie seer, maar ek is seker sy sal oorleef. Nou het ons 3 klein brakkies in die huis, want Tjoklits se boetie bly ook nou by ons.

En intussen maak ek my broek se belt al kleiner en kleiner. Want die broek hou aan afval as ek die belt nie styf genoeg vasmaak nie. En dis redelik embarrassing as mens se broek voor ander mense afgly.

En die winter is darem al driekwartpad verby. Nog net so 2.5 weke en dan is dit offisieƫl lente. Ek hoop net die lente besef dit ook!

En dis al vir vandag.

Lekker dag ou Grote! Wanneer braai ons?

No comments: