Monday, May 31

Dis die Blou....

Mense, 'n koorsige 2 weke, hoor my, 'n koorsige 2 weke. 22 Mei ruk Pretoria op na Soweto. Die kwarteindstryd teen die Crusaders. Almal maar bietjie bewerig om dit daar in die Gomorra deel van Sodom en Gomorra te waag. Maar rugby kraai koning en die Bulle wys die Crusaders waar in Soweto Dawid die wortels begrawe het. Ek en paar vriende kuier eerder by die huis as om vir "drunk and disorderly" op straat geprosedeer te word. Toe is dit mos nou die emosionele oorlog. Almal loop te vertelle dat die Stormers nou op hulle piek is, en die "af" naweek van die Bulle gaan hulle duur te staan kom. So tref 29 Mei ons met die spoed van die heilige wit fisant. En die Bulle word die laaste span om die Super 14 trofee te lig. Gal word gebraak deur al wat Stormer ondersteuner en speler is, maar soos ou Frik du Preez (of was dit Jan Ellis) beduie het: Tjek die scoreboard. En in die gevleuelde woorde van Koning Naas Botha: Cowboys don't cry. Aan die einde van die dag het rugby geseëvier met 'n baie opwindende game. En so kom die Super 14 tot 'n einde, en die trofee vind 'n permanente staanplek in die trofeekabinet op Loftus se gronde..

Selfs ou Grote het by my uitgeval net om sterkte te sê, oppad na sy ma toe. Die liewe tannie lê tans in die hospitaal, en ons gebede is met haar. Dit gaan nie baie goed nie.

Op die gesondheidsfront: Gaan sukkel-sukkel, maar sal beter gaan soos die geld minder raak, en mens minder moet eet/drink. Bloeddruk is nog maar op en af, maar darem meer af as op. Suiker bly mooi stabiel, maar damn! Ek raak lus vir tjoklitkoek!!!

Liefie het laasweek haar eerste eksamen in 25 jaar geskryf, en dit het blykbaar goed gegaan. Sy skryf more weer. Sterkte my babe, ek het volle vertroue in jou!

Intussen is my naweke baie vol, en is my swembad eerder tans 'n plaasdam. Nie so vol vis nie, maar net so groen. Ek sal moet plan maak.

En ons het die oulikste ou brakkie persent gekry. Yorkie-poo. Baster tussen Yorkie en Maltees. Bybie Tjoklits. Te flippen cute, seg ek jou, te flippen cute! Maar dis nou weer pajamadril van 'n nuwe uiterste. Die dingetjie moet eet in die nag, en dan moet mens die ding maak piepie op die koerant. Tjorts die dingetjie toe op Liefie se hand toe sy die streel-beweging probeer. Groot bron van lag, maar die hou in die ribbes was maar gevoelig. Nuwe reël: Mens lag nie vir jou vrou as die hond haar beskuie nie. Jy sjarrap net en help skoonmaak.

Ek sal per volgende geleentheid 'n foto of 3 van die monstertjie hier byvoeg.

Tot ons weer hier 'n gedagte of 4 vasvat, gegroet, en mag ons Hemelse Vader elkeen van my vriende/familie/kennisse/vreemdelinge in my poorte beskerm en seën.

Maranatha!

Nag ou Grote!



Tuesday, May 18

Eish!

Ok, ek weet ek het LANKLAAS hier geskryf. Kannie help nie, my lewe het BAIE besig geraak baie skielik. Wel, hier volg die nuus gelees deur Riaan Cruywagen. Nee wag, fout. Riaan kan nie my nuus lees nie, want ek is seker hy is 'n vampier. Die dat hy nie ouer word nie. Maar dit daar gelaat.

Ok, ko's gaan terug in die verlede....

Naweek van 10 April. Cathy se verjaarsdag. Ons staan op, ry 'n paar draaie, koop klere vir die Troue, en kies koers Rustenburg toe. Kom eventueel by Bulls in the Bush gastehuis aan, en ontspan oor 'n bier of 4 en potjie pool. Maak later reg, en ry Sun City Superbowl toe. Ons gaan Tom Jones kyk! Daar aangekom, eers 'n drankie geniet, en dan die vertoning. Die man se energie het my skoon uitgeput! Hy is nog so baldadig op die verhoog soos wat ek hom van 'n vorige vertoning onthou. Lekker sitplekke. 1ste "risers" aan die linkerkant, 2de ry van voor, op links. Lieflike view van die verhoog. Terwyl Tom Thunderball uitdonder, neem ek skelm 'n video met my fountjie. Volgende oomblik 'n bouncer se hand op my skouer: "Put that away. NOW!". Ek maak eerder so voor ek aan my kraag uitgegooi word. Ons ky die show verder. Tom vat nie eens 'n ruskans nie, en vermaak ons vir meer as 'n uur en 'n half! WOW! Dis 'n BELEWENIS!. Ons gaan uit, gaan kry 'n drankie en gaan kyk of daar 'n masjien is wat dalk vir ons 'n ou persentjie wil gee. Niks vir my nie. Nada. Liefie wen/verloor/wen/verloor. Ek gaan maak haar bymekaar en beduie ek dink dit is tyd om te ry. Sy beduie dat sy een laaste klappie wil probeer en speel maksimum weddenskap op haar masjien. Volgende oomblik klink dit of die ding tilt! Tjiengel-tjiengel!! Wen sy net so oor die R1500.00 op die 50c masjien. Kaching! Ons waai. Ry terug, gaan slaap. Volgende more ry ons om Brad by sy ouma hulle te gaan haal, want die skole begin weer die Maandag.

Week baie besig en werk hou ons goed aan die gang.

Naweek van 17 April. Carissa trou. Ry Saterdag na skoonouers toe. Maak klaar vir troue, en vlieg laag om betyds by die kerk te wees. Van kerk af is dit laagvlieg onthaal toe. Pragtige troue! Caris lyk soos 'n prentjie. Ons kuier 'n HOND uit 'n BOS uit. Net jammer dat ek nie na oom Angus se plaas toe kon gaan nie. Maar nou ja, can't have it all, can I?

Raait, nou fast forward ons weer. Naweke volg hard en vinnig op mekaar. Maandag wissel Maandag af. Vrydae kom en gaan teen die spoed van die Heilige Wit Fisant. Of vinniger. By die werk gaan dit doller as kop-af. Projek deadlines jaag my. Kry projekte voltooi. Nefies verjaar. Vriende verjaar. Familie verjaar. May Day. Tannie Fran word 80. Oudste Erlank wat ek ken.

Intussen is kleinsus permanent op my case oor my blog agterwee gelos is. Maar magtig, daar is net nie tyd nie! Ek kry skaars tyd om.. ja toemaar, ko's los dit net daar. Die lot by die kerk het naderhand begin wonder of ek ooit weer gaan opdaag.

Amor tree op by Traders Familie Mark. So 'n reënerige trietsige dag. Ons gaan kyk. Vroeg al daar om goeie sitplek te kry. Anders kry mens nie sitplek nie. Somehow vang ek Amor se oog en sy beduie sy sal my nou-nou roep om saam met haar te dans. Ek dog nog sy maak 'n grap! Aikona! Volgende oomblik beduie sy in my rigting. Ek moet maar verhoog toe. Doen paar lawwe passies op die Locomotion saam met haar. Damn, sy is mooi eintlik. Joost, what the hell were you thinking, my boy!!! Ek kry 'n CD en mooi poster. Ek laat sy die poster vir Brad teken, en die CD vir liefie. Ek soek net 'n foto. Kry toe mooi ene. Eish. Anners het ek dit self nie geglo nie.

So gaan die dae verder om, en begin die winter al nader kruip. Werk, werk, werk. Cathy se kar gaan paneelkloppers toe, en ons ry elke dag vir 2 weke saam (met die ou wa). Ek leer nuwe roetes werk toe ken.

My selfoon begin ophou kontak maak met die wêreld daar buite. Gee allerhande funny foute. Ek probeer Virgin Mobile in die hande kry. Goeie donder! Dis makliker om gesmelte botter met 'n graaf in 'n vlooi se hol op te druk as om hulle support via telefoon en e-pos in die hande te kry. Ek probeer HelloPeter. Skryf hulle terug hulle het my op my sel probeer kontak sonder sukses. HELLO! Obviously sal julle geen sukses behaal nie. Die blerrie ding WERK nie! So vat dit amper 2 weke voor ek uiteindelik 'n vervangingsim kry. En vir die ongerief gee hulle my darem R80 se lugtyd. Customer support? Meer soos customer de moer in maak!

Die pas afgelope naweek bel Cherise en vra of sy mag terugtrek, sy kry nie werk in Jozi nie. Natuurlik, seg ek. Mag Schernal saamtrek, vra sy. Is reg met my, beduie ek. So 'n paar uur later is die 2 hier. So 'n paar uur later het Schernal 'n joppie. Nou nie juis 'n glamourous jop nie, maar dit sal help. Fênks Tjomma, ek skuld jou alweer. Sal eendag vergoed.

En uiteindelik het die horlosie se wysers genoeg geswaai om tot by vandag se datum en tyd by te kom.

En nou is die vraag op almal se lippe: Wat van jou gewigsverlies en bloeddruk en gesondheid?

Ok, ek het baie steady bietjie vir bietjie gewig bly verloor, en so 'n week gelede het die skaal skielik een oggend vir my nie meer gewys hy kan my nie hanteer nie, maar ek is nou meetbaar. Dit was so 150.7kg. Klim ek gisteroggend (na die naweek) op die doemprofeet en skrik byna my gat af. 146.8kg. Yeehaa! Nou is ek weer gedetermineerd om aan te gaan met die gewigsverlies storie! Ek drink elke oggend, voor ek enige iets anders doen, 2-4 glase water. Dan, omtrent so 30 minute later, drink ek eers my koffie. En glo my, dit werk!

Die bloeddruk is op en af en op en af. Party oggende trek die ding by 160/115, en ander oggende is dit so 105/65. Vroeer vanaand slaat ek die jackpot met 'n 95/50. Skrik my gat weereens af. Kry Brad om my gou bietjie kwaad te maak, en toe kom die ding darem op tot 115/78. Gisteroggend was so 'n rekord hoogtepunt met 168/121. Gedog my oë ontplof in my se kop.

Die ou tieker is darem beter. Polsslag kom af na so mid-70's. Ek voel nie meer so lam nie, behalwe as my bloeddruk wipplank ry.

En ja, op die stadium is daar nie juis verdere opwindende nuus nie. But, watch this space...

Ek het baie vrede in my hart. My Koning is op die Troon, en ek weet Hy sal sorg. Al lyk dinge soms baie donker en moeilik, soms BAIE donker en moeilik, weet ek dat Hy nooit die bal sal drop nie. Habakuk kom in my gedagtes op waar hy beduie dat al is daar nie vee in die kraal nie, en geen oes op die lande nie, nogtans sal ek jubel in my Here.

Vader, ek gee aan U die eer en die lof, want U is waardig om geloof en geëer te word.

Nou ja, dis dit. Lekker slaap. Nag, ou Grote.