Friday, August 31

And another thing...

So is die winter van 2018 ook amptelik iets van die verlede. Maar die afgelope paar weke was nogal bietjie vreemd. Dis asof winter by die deur uit is, om die volgende oomblik soos ou Columbo terug in te loer by die deur om te sê "Oh yes, and another thing..." Dit het ons so 2-3 keer die afgelope rukkie getref. Net begin lekker warm word, gevolg deur een hengse koue skrikmaker.

Dit was 'n moeilike winter. Glo my, dit was moeilik. Hier rondom Junie begin liefie kla van 'n sweer of 'n ding in haar lies. So gaan sy toe na die werk se kwak toe, wat die ding oopsny om te dreineer, en stuur haar huis toe. Teen Vrydag voel sy totaal nie lekker nie, gelukkig moet sy en Brad huisdokter toe vir hulle diabetiese goete. Dokter Riana gee haar so een ligte ondersoek, bel dadelik 'n dokter by Eugene Marais, en beveel hom om dadelik aksie te neem. Ek jaag huis toe, kry liefie, boek haar in by Eugene Marais. So 3 ure later, noodoperasie op die bobeen. Necrotising fascitis. Google daai. Dis SCARY! Hulle sny 'n deel uit haar binnebobeen, so groot soos 'n man se vuis. En ek worry. Sy word ICU toe geskuif. En ek worry. Sondag is operasie 2. Die dokter kerwe verder. Sy het pyn. Na die operasie kom vertel hy my dat dit was touch en go, of sy het haar been, of moontlik haar lewe verloor. Die Dinsdag, finale operasie en toemaak van die wond. En sy het seer. Moer seer. My hart huil vir haar. Intussen is ek afgeboek met bronchitis. Maar tyd vir rus is daar nie. Want Brad moet werk toe geneem word, en gehaal word. En dis koud. En ek hoes. So teen die Woensdag kry ons nuus, liefie word uit ICU gestoot. Maar na afsondering toe, want sy het weer die een of ander super bug onder lede. Ai, wat nog! Verdere hospitaaltyd vir haar. Totaal van 2 weke van opname, tot hulle haar toe eventually vrylaat.

Sy bly toe daai week by die huis, en begin weer huil van die pyn. Jaag met haar terug dokter toe, en hy reken dadelik terug in die hospitaal, daai ding vlam op. So, alweer sulke tyd. Nog 'n week in die hospitaal, in afsondering, vir die gogga om tot sterwe te kom. En ek is weer afgeboek, bronchitis verwaarloos. Maar rus is daar steeds nie. Want Brad moet werk toe en huis toe, en ek kuier by my vrou.

Uiteindelik is sy uit, en is die herstel beter. Dankie Vader daarvoor. En ek hoes en ek hoes.

En toe trou my peetseun. Vroeg in Augustus, so op Vrouedag, neem hy die groot stap. Troue daar in die suide van Jaansberg, op so 'n mooi venue met so 'n klein kerkie. En 'n mooi onthaalsaal. En die wind waai. En die wind waai. "Daar's 'n wind wat waai, soos hy nou daar waai..." Pragtige troue, lieflike boodskap deur Heini. Goeie onthaal met lekker kos. Net jammer ek en liefie moes maar vroeër die pad terug aanpak, want die volgende dag was dit terug werk toe vir haar.

En toe dooi ou kieterkat. Kom een middag by die huis, so teen slaaptyd roep ek kieterkat om te kom eet, maar sy kom nie uit nie. Loop rondom die huis, en kry haar voor die lapa, waar sy in die sonnetjie gaan lê het, en net nie weer opgestaan het nie. Begrawe haar toe in die tuin. Voel baie treurig oor die ou dier. En Cherise kan nie vinnig genoeg wag om die kos wat ek vir die kat gekoop het, te vat om vir haar vriendin te gee nie. Nou ja, is seker maar hoe dit is.

Kom die einde van Augustus nader, en die rolbal klub se algemene jaarvergadering. Word ek toe nou as president van die rolbalklub verkies met al die voorregte en pligte wat daarmee gepaard gaan. Hygend hert, 'n besige tyd in my lewe lê voor. Hopelik kan ek die pyp rook.

So, 'n baie besige tyd in my lewe sedert my vorige opdatering, en 'n besiger tyd wat voorlê. Komaan somer, kom aan! Dis tyd vir braai, swembad skoonmaak, en lewe geniet.

Groetnis en wederom!