Tuesday, October 26

Asem in, asem uit...

So kry ek toe nou my kompressor, en bekyk die ding uit sewentien verskillende hoeke. Dit was so einde September rond, as die geheue nog reg werk. (Was bietjie te besig om by die spoegblok uit te kom.) So slaap ek daai eerste aand met die ding aan en raak so 4:30 die Saterdagmore wakker... so wakker soos 'n akker, maar uitgerus. Voel skoon vreemd! Daai eerste week was heel vreemd. Elke oggend voor die wekker wakker, en dan heeldag, sonder om te wil visvang, wakker. Vroulief was natuurlik baie impressed, want sy kon begin deurslaap. Blykbaar die eerste nag het sy nie 'n oog toegemaak nie, want sy kon my nie meer hoor snork nie! Nou is sy al so gewoond aan die stilte dat sy nie eens meer vreemde inbrekergeluide in die huis hoor nie. Ek word net elke oggend lyfseer wakker, omdat ek wakker word in presies dieselfde posisie waarin ek die vorige nag my hoof neergelê het. Maar nou ja, elke sport het sy beserings.

Self moet ek erken dat ek 'n nuwe mens is. Lewenslustig, energiek, voel beter, gewiggies begin so stelselmatig minder word. Hemde wat gespan het, sit los. Belde is op hulle laaste gate. Produktiwiteit verhoog omdat ek kan konsentreer. Liefie is nie meer gestress as ek bestuur nie, want ek raak nie aan die slaap agter die stuurwiel nie.

Op die tuisfront: Liefie hoor toe by haar dokter sy moet gaan vir allerhande toetse. Kameras wat van orals af beloer wat binne aangaan. Drink toe al die nodige medikasie, en ek kry haar toe maar baie jammer, want sy mag nou nog niks eet ook nie. Vat haar die dag toe na die PlusHuis toe, boek haar in, en die gewag begin. Kom sy eventueel uit die teater, beduie vir die nursies, as sy klaar geëet het, wil sy kaya toe. Kom ek en sy eers so 6 uur by die kaya aan. En ons wag op die uitslae. Eers 'n week later laat weet hulle haar dat sy 'n skoon verslag het, niks fout nie. Die probleempies waarmee sy sukkel, is maar diabeties-verwant.

En toe sien die Wit Bobbejaan amper die Pearly Gates van naderby. Gee ons groot skrik. Kom kuier by my, en oppad huis toe wil hy gou by die Geel Apteek langs. Volgende bel sy wyfie, en beduie my in horte en stote dat die ou onwel is, vleiswa is daar om hom bymekaar te hark, en ek verstaan nie mooi nie. Ek teken prente van motorwrakke, stukke mens wat rondlê ensomeer. Jaag om haar te gaan haal, jaag en soek na waar hy is, en kry hom eventueel in die parkeer area van die winkelsentrum, in die vleiswa, sy bromponie netjies geparkeer, geen skade, net hy totaal buite aksie. Uiteinde van die saak is darem dat die ou op die been is, en weer kan aangaan met sy bestaan. Hy het intussen daai bromponie vir 'n missis bitchi verruil, so 'n plat rooi ene. Nou spandeer hy elke wakker oomblik tuis om die wa te poleer, herbou, modifiseer, transmogrifeer en in die algemeen te personaliseer. Wat is 'n goeie Afrikaanse woord vir customize?

En nou stoom ons voort na Desember toe, vakansie tyd lê en loer vir ons. Nog net die laaste hompiekedompie en ons is daar.

Tot dan, lekker lees, hou die blink kant bo, en reik na die sterre.

Dag ou Grote!