Monday, May 18

Ek raak uit titels uit.. Ouderdom.

En so kom ons by nog 'n opdatering van wat in die lewe van Willeboer (dis nou die uwe) en sy groepie gesinslede aan die gang is. Ja ek weet dis vervelig, maar ten minste maak dit my onthou wat in my lewe gebeur en/of aangaan :)

Raait, hier is dit:

  • Word toe gevra of ek my Saterdag singles Vrydagmiddag kan speel. Kry af by werk, gaan klub toe, en kry goeie draggie slae by Marius R. 21-1. My een punt in die 2de kop opgetel. Kon daarna net nie terugkom nie. 
  • Vat Saterdag Mike en Elaine om te gaan shop. Shame, hulle sukkel erg sonder 'n kar!
  • Saterdag gemerk terwyl liefie en Riana hulle game klaarmaak, liefie verloor 21-16, wat damn goed is! Kuier lekker by die klub tot laterig. Blykbaar het 32Bn hulle reunie ook daar gehou.
  • Sondag net rustig gevat en Buries se Swarra se pc reggetjommel. In ruil vir die hek wat laasweek herstel is. 
  • My jongste en enigste beduie Donderdag dat haar liefdeslewe oppetjorts is. Duidelik moet die laaitie wat haar hartjie gebreek het, oppas. Sy knieë gaan baie ernstig verniel word as ek hom teëkom!
En dis in kort alles wat in my saai lewe gebeur het. Hopelik is daar bietjie meer opwinding in die toekoms, alhoewel ek die rustige stilte waardeer.

Groetnis! En vir jou ou Grote!

Tuesday, May 12

Weeklikse update

Ek het besluit ek wil weekliks die ding update om die hoofgebeure van die afgelope week/naweek in te sluit. So, without much further ado, hier volg die nuus soos verskaf deur die uwe, Willeboer:


  • Afgelope naweek weer by rolbal, liefie saamgevat. Sy het vir die 1ste keer punte in 'n wedstryd aangeteken. 4 skote na 8 koppe. Not too shabby! Maar toe raak haar rug seer en die opponent bietjie omgesukkel asl liefie sit. En liefie verloor konsentrasie as die rug seer word. So die game is dus uitgestel.
  • Sondag was moedersdag. En op 'n besluit deur die feeskomitee (is nou ek en liefie) het ons besluit om sommer maatjies te nooi vir pot. Hoenderpot, dit is. Gaat haal ek toe vir Mike en Elaine en Saarkie, en laai vir Blondie op. Ons bou hoenderpotte en kuier te lekker. One way om moedersdag lekker te maak! Net jammer die kids het besluit dat dit net 'n gewone dag is, en niks vir hulle ma wou doen nie. Maar nou ja, so is dit maar seker.
  • En die res van die week? Koue is in aantog, en die winter lê voor. Yuck, superyuck.
So dit was die nuus soos gelees en geskryf deur Willeboer.

Gegroet ou Grote! Sien darem jou wyfie gesels af en toe met die mense op bakkiesboek!

Thursday, May 7

Nuwe lewe.

En toe vind ek uit ek slaap nou langs 'n ouma. JP se babadogtertjie is gister gebore. Maar omdat die girl dink Liefie is die duiwel se eige bloed, is ons nie juis included in die feesvieringe nie. En JP mag slegs per besoek sy kind sien. Shame. Wonder of die kind eendag in ons lewens sal feature, en of ek ooit 'n regtige oupa vir 'n kleinkind sal kan wees, kompleet met die  bederf, en alles.

Maak nogal iewers diep binne effens seer. Maar nou ja, dis maar seker hoe die lewe is.

Voel soms ek wil vir Liefie vat en verdwyn na ver weg waar ons net sonder kontak van almal kan wees en waar niemand ons binneste kan omkrap nie. Maar dis ons nie beskore nie. Verantwoordelike ouers, dis wat ons is.

Groetnis ou Grote, van een oupa na 'n ander. Ten minste het jy meer geredelik toegang tot jou kleinkinders, ne?

Tuesday, May 5

Bolle rol en lankstaan

So breek 1 Mei toe aan, en Cherise moet gaan kompetisie speel. Ons almal tou maar af Wingate toe en sit rustig. Volgende oomblik beduie die mense daar hulle soek merkers. Ek seg nog so ewe maar my skoene is nie reg nie, toe work ek vertel maar my skoene sal nie probleme veroorsaak nie, ek moet merk. En daar is ek pens en pote in die son. Heeldag. Met 'n denim, bruinerige hemp en my werkskoene. En die son skyn. Darem my sonbril byderhand. En ek staan en ek merk. 3 rondtes. In die son. Kry darem na elke game 'n bier vir my moeite :) Einde van die dag is ek stokflou. Word vertel ek moet die Saterdag ook merk, asjoublief. Trek net whites aan ook dankie.

Kom by die huis, maar sommer net hammies en gaan rus. Pootuit.

Saterdag. Vroeg op. Whites aan. Wingate toe. Liefie bly tuis, sy wil leer. Ek en Brad en Cherise is op die baan, ek en Brad merk, sy rol. 2 lang games. Darem die keer 'n hoed saamgevat.

Na die games lekker geginnegaap saam met die rollers, en toe PHSOB klub toe vir die finals. En van daar af huis toe. Sommer net pops en chips vir aandete. Te moeg om nog te dink aan kosmaak!

Kom loer Marius, Joy en Blondie in om Cherise (wat 'n hele paar doppe sterk staan) terug te bring. En kuier. Tot laat.

Sondag net gehang. Potjie gemaak en gerus. Soos ek die hele naweek wou. Maar nou ja, dit was lekker. Uitputtend, maar lekker.

Moral of the story, as mens na enige rolbal game toe gaan, trek maar verkieslik jou whites aan, mens weet nooit wanneer jy betrek word vir 'n game of om te merk nie..

Groetnis ou Grote. Neels wil hê ek moet bietjie kom inloer. Sal maar so maak, of hoe?


Tuesday, April 28

A nice long weekend and an even shorter week

So 'n lekker rustige lang naweek pas agter die rug, en nog een oppad. Naweek was vol rolbal, en rondhang. Saterdag so hier en daar in die huis gevroetel, toe my singles kompetisie gaan speel, en my "unbroken record"  behou van al my games verloor :) Die ene was "down the wire", soos hulle sê. 21-20. Daarna gebraai, en gekyk hoe die Bulle nie kanse gebruik nie. Swak.

Sondag net rustig tuis gewees, nie veel gedoen nie.

Maandag weer dit-en-dat gedoen, siende dit 'n vakansiedag was. Oulike vuurstooftop dingetjie gekoop, en toe weer rolbal toe vir oefening. En so 'n paar lang doppe. Vroeg kooi toe.

Nou drie dae se werk, en dan weer lang naweek. Weer vol rolbal, siende Cherise speel BGN kompetisie Vrydag en Saterdag.

Nou ja, ek teken maar eers af. Groetnis ou Grote. Mis jou my maat.

Monday, April 20

Naweke en braai

So is nog 'n naweek op 'n einde. Darem 'n braai saam met Boeta ingewerk, nadat hy weer sy verskyning op die horison gemaak het.

Saterdagoggend kinders by rolbal gaan aflaai, sodat hulle kan oefen. Cherise saam met die colts&fillies, en toe sleep hulle sommer Brad saam. Vir Mike en Elaine gevat om hulle shopping te doen, toe terug huiswaarts. Daar rondgehang en liefie gehelp met haar Android projek. Beukesse het so om en by 3 uur se koers opgedaag, toe is ek en Boeta klub toe om die kinders te loop oplaai. Paar biere daar gedrink en spoedig huiswaarts om te gaan braai. Hulle het sommer oorgeslaap, omdat dit nie goeie idee is om bier te drink en dan te wil bestuur nie...

Sondag 'n massiewe luilekker dag op die opblaasmatras voor die tv deurgebring en movies gekyk. Lekker man, lekker! Is mos hoe 'n naweek geskeduleer moet word.

Behalwe vir die beurtkrag wat nou regtig 'n irritasie raak. Want dis rekenaar-afsit hier van 19:45 af, genny by die deur uithelp, drade regkry en dan sit en wag met die flits tot die krag afgaan so net na 20:00. Elke aand. Pffffft. En dan sit met die lawaai en buurt dophou tot ek die eerste straatligte weer sien aangaan. Dan is dit weer rekenaar-afsit, krag omskakel, genny terugsukkel in die huis in, en dan eers kan ek regmaak vir kooi. En dis enige tyd van so 21:15 deur tot 22:30... Nooit konsekwent met die aanskakel nie.

Wonder of ons ooit weer stabiele krag in die land sal sien.

Rustig wees ou Grote! Hoop julle het ook krag, of kerse!

Friday, April 17

..just another day in Paradise..

Titel van 'n ou Phil Collins liedjie. Just another day in Paradise. Maar net nog 'n dag op hierdie rots wat om 'n geel son spoed. 'n Vrydag nonetheless, so darem naweek wat voorlê.

Wat het die afgelope ruk gebeur?


  • Liefie se verjaarsdag, met karaoke aand gevier
  • Brad was op rolbal toernooi, het darem nie te sleg gevaar nie
  • Cherise is gekies om BGN toernooi te gaan speel
  • Danielle is besig met revue
  • En ek haal asem en bestaan
Ons was Sondag by Amanda-hulle om Gustav se 21ste te vier, met 'n roerbraai. Glad nie te sleg nie. Darem rustig. En daarna gou by Ma gestop om 'n planthangding teen haar muur op die stoep vas te sit. En toe maar huiswaarts. 

Opwindend.. Hou vas jou matras, die opwinding is besig om oor te neem!

En die winter is op hande. Dae raak korter, later lig en vroeër donker. En mens voel die byt in die lug.

En dis al my opwindende nuus vir die week.

Groetnis ou Grote. 

Wednesday, April 8

Soms is geen nuus goeie nuus

In my lewe glo ek dat geen nuus soms goeie nuus is, ook in die geval. Want ek het nie juis nuus nie. In elk geval niks waarvan almal nie alreeds weet nie. Want dis maar hoe dit is. Paar interessanthede wat die afgelope ruk gebeur het:


  • Liefie en vrind het bietjie uitval gehad, met die gevolg dat hulle nie juis meer baie kom braai nie. Is eintlik hartseer en onnodig, maar nou ja, hy is hardkoppig en heethoofdig.
  • Bolle rol kom so op 'n stappie aan.
  • Liefie het lipome laat uitsny, lyk amper of iemand haar kop wou afsaag.
  • Brad is Bloem toe vir interdistrikte rolbaltoernooi. Kry toe sy Gauteng-Noord halfkleure.
  • Cherise het in die finaal van die BGN Novices Dames enkel toernooi gespeel en 2de geëindig. Baie goeie resultaat vir iemand wat net 6 maande speel!
  • Beurtkrag is nog steeds deel van ons lewens. Gelukkig vir my kragopwekker wat die huis kan aan die gang hou as Eskom die krag afsit. Wat amper elke aand gebeur.
  • Liefie het 'n A-klassie gekry, die nuwe A200. So 'n witte. Dekselse mooi karretjie!
  • Van tjom eeue laas gehoor. Wonder soms of dit my aftershave was..
  • En van boeta ook lanklaas. Hy werk blykbaar baie uitstedig. Iets met trokke.
  • En nou ja, dis al die nuus. Wat nie juis baie nuus is nie. 
Ek wonder steeds of dit goed gaan met ou Grote. Beste vir jou my maat!

Tuesday, January 20

Hiert! Kyk wie het besluit om weer te skryf. (Of so iets)

Nou kyk, die ding dat ek net eenmaal 'n jaar (en soms minder) skryf, is sommer twak. Groot twak sê ek jou. Want daar gebeur baie dinge, en dan kan ek dit nie hier op die blok sit nie, want ek vergeet, of raak besig, of is sommer net dêm sleg en lui.

So ek dink ek moet van nou af weekliks op die ding sit en woorde skryf. Want die lewe gaan aan.

Ok, wat het die afgelope (eintlik laas) jaar gebeur:

  • My PH is wonderbaarlik laer. Dokter meen dit is oor ek elke aand pligsgetrou met daai kompressor slaap.
  • Liefie het nog 2 honde (Milo en Beertjie) bygekry. 
  • Brad het Mackie by Ouma gekry toe sy moes trek Avondrus in V-Town toe.
  • Cherise is sak en pak terug met haar 3 honde.
  • So ons het 9 honde.
  • En voëls.
  • En 'n kat.
  • En visse.
  • En 'n skilpad.
  • JP is terug Johannesburg toe.
  • Die swembad se sonpanele wil nie werk nie, moet pype vervang wat deur die son verniel is.
  • My tuin het plante bygekry, dit lyk soos 'n oerwoud.
  • Ek het 'n klein karavaantjie gekoop, moet hom nog mooi modify.
  • Ek ry nou 'n B200CDI (so 'n blouerige kleur).
  • Ek het een moerse hifi 2dehands gekry vir minder as spotgoedkoop.
  • En opgegradeer na 'n Explora toe.
  • Ek het baie van my besittings afgestaan aan die herverdeling van skatte (sonder medewete of toestemming):
    • My groot tent
    • Visstokke
    • My potjies
    • Kompressor
    • Sweismasjien
    • Brad se fiets
    • Ander gereedskap
  • Brad het 'n motorfietsie gekry.
  • Ek het darem van my gereedskap vervang.
  • En 2 potte gekoop.
  • Ons het begin rolbal speel by Munies. (Dis vet pret!)
  • Kersfees het gekom en gegaan, saam met ons vrinne deurgebring.
  • So ook Nuwejaar.
  • Ek doen nou C# programmering by die werk ook, het besluit om my spanleier takie eerder te los, en te fokus op programmering. Daar is nie genoeg tyd vir alles nie.
En dit is in 'n neutedop wat die afgelope lang ruk gebeur het. Nogal baie, en ek kon meer gereeld probeer opdateer wat gebeur. So ek meen ek moet maar eerder probeer om weekliks ten minste 'n gedagte of 2 op die bladsy aan te bring.

Life happens when we are too busy making other plans.

Geniet die lewe!

Wonder hoe gaan dit met ou Grote.

Sunday, April 13

Guess who is back in town....

Goodness gracious!

Skandes! Dis te lank sedert ek hier my vingers aan 'n sleutelbord laat raak het. Hoog tyd om my klein hoekie van die interwebs weer aan die gang te sit!

En hier volg die nuus:

  • Ek is nou 'n "team leader" by die werk met 2 mense wat aan my rapporteer
  • Altwee die ouer kinders het teruggetrek sak en pak (alhoewel blykbaar tydelik)
  • Huis vol honde (Cherise se 3 en ons 4)
  • Klein vistenk met vissies in die kombuis
  • Voëlhokke staan sterk
  • Uiteindelik my "big screen" gekry
  • Bokwa verkoop
  • Ry nou Merc C250 CDI Coupé (my midlife crisis kar :) )
  • Het van omtrent brandarm na omtrent ok gegaan
  • Liefie het vir ons elkeen 'n Lenovo 10" tablet gekry
  • My PH het verbeter
  • E-tol is geïmplementeer, en ek bly 'n aktivis teen die hele stelsel, al is ek geforseer om 'n e-dingetjie teen my ruit te hê, omdat ek 'n "leased car" ry
  • En dis omtrent dit.


As for the rest, alive and kicking. En ek belowe om my blog bietjie meer gereeld te opdateer, en dalk 'n foto of 3 van my vuurtjies te publiseer :)

En dis al.

Nag ou Grote, hoop dit gaan goed op Planeet Plot!


Thursday, February 16

Onaanvaarbare gedrag!

Dis onaanvaarbaar dat ek so lanklaas my keel hier skoongemaak het! Genade mense, dis pure luigeite! Ek meen, ons is deur die rugby wêreldbeker (onsuksesvol), Kersfees en Nuwejaar, en ek het wraggies niks geskryf oor wat in die lewe van die Willeboer en sy kudde aangaan nie! Sleg, seg ek jou, sleg!

Maar nou ja, genoeg met myself geraas.. Hier volg 'n kort opsomming van gebeure sedert my vorige inskrywing:

  • Liefie se oogoperasies was reuse sukses, sy kan nou mooi sien en dink ek is darem nie te lelik nie.
  • Was op reunie van so 'n klein groepie skoolvrinne, en dit was great om so 'n paar van die gesigte na 'n kwarteeu weer te sien.
  • Nuwe tweedehandse tent (massief groot) gekoop vir appel en ei. (Eintlik halwe appel en kwart ei). Ingewy met visvangnaweek by Mar-Leo oord by Roodeplaatdam.
  • Jaarlikse doktersbesoek was baie bevredigend. Cholestrol is LAAG! Bloeddruk is 100% ok. Suiker is totaal onder beheer. En niks anders is buite perke nie. Dokter is actually baie gelukkig met my progress. Gewig is nog so bietjie hoog, maar met die halfton wat ek al afgeskud het, voel ek sommer goed.
  • Mal besig by die werk, maar ek hou kop bo water en dit betaal die kar en huis.
En dis basies in 'n neutedop wat die afgelope ruk in my lewe gebeur het. Nie juis baie opwindend nie, maar eerder 'n saai lewe as ene wat so opwindend is dat mens nie eens kans kry om asem te haal nie. Die ou Chinese het mos 'n "curse" gehad wat seg "May you live in interesting times"...

Groete vir eers, die werk roep.

Dag ou Grote! Mis julle!



Saturday, August 27

Dis heerlike lente, die winter's verby...

Weer nodig die velde vir jou en vir my... het ons as kinders gesing wanneer die winter einde se kant toe staan. En vandag voel geen uitsondering nie. Dis heerlik warm, ek het die swembadpomp se lekkende pyp gefieks, en die swembad mooi gelykvol getap. Nou net die Pratley Putty laat droog word en dan kyk of die ding ophou lek het. Anders maak ons maar 'n plan B. En dan moet ek maar die pomp bietjie laat hardloop sodat die son die panele kan warm maak, en die warm panele die water kan warm maak, en die water die swembad swembaar kan maak. Want ek swem nie in koue water nie. Dis teen my beginsels.

Intussen het ons duiwe uiteindelik dit reggekry om 'n eier uit te broei. Die lelikste kuiken wat ek al ooit in my lewe gesien het! Maar sal seker mooier raak soos die tyd aanstap.

En by die werk gaan dit maar soos altyd vrekbesig. At least betaal dit die verband en die kar! Willevroutjie swot hard en dit lyk heel goed. Sy gaan die week vir ooglensvervanging. Dan gaan sy actually kan sien! Ek is bietjie bekommerd daaroor, want dan gaan sy sien hoe ek regtig lyk, en sê nou sy skrik haarself half dood??

Ek word nog steeds maer, dit gaan net bietjie stadig hier in die winter want oefen en ek is nie groot maats nie, en in die winter is dit gewoonlik nog erger. At least kruip die gramme darem nog afwaarts op die skaal. En die bloeddruk is onder beheer, en die suiker is onder beheer. Wonder net oor die cholestrol. Maar dit sal ons weldra uitvind wanneer dit weer tyd is vir my jaarlikse besoek aan die kwak.

Intussen, geniet die lente, en mag die voorspoed julle verveel!

Lekker dag ou Grote! Hoop daar is 'n paar nuwe lammers op planeet Plot!

Thursday, August 11

So ry die trein

So moes my klein karretjie ingaan vir diens, 2 dae na die Gauspoor tussen Pretoria en Jozi uiteindelik oopgemaak is vir passassiers. Gelukkig is die plek van die karre reg langs die stasie in Pretoria. Gee die kar af, loop so 5 minute, en koop my goue kaart. Klim die trein, en jaag teen 'n gemaklike spoed Sandton toe. Heel gemaklik, heel gerieflik. Kom tjoef-tjaf in Sandton aan, op met al die miljoene roltrappe (omtrent 4 laaaang trappe) van onder af tot bo. Kry die regte bus en kom werk toe. So 5 minute se loop van die busstop tot by die kantoor. Middag selfde roete terug, behalwe die oplaai punt van die bus is so 300m verder weg. Geen probleem. Tjoef-tjaf en ons is terug in die Jakarandastad. Behalwe dat die stem op die trein iewers homself deurmekaar gemaak het, want toe ons reeds deur Midrand is, beduie die stem dat die volgende stop Midrand is. Klim daar mense by Centurion op, en die stem beduie weer dat die volgende stop Midrand is. Spring daai mense amper uit hulle velle om af te klim, maar gelukkig sit ons toe daar en vertel hulle dis nie die waarheid nie, daai stem is effe deurmekaar. Lekker geglimlag daaroor!

En skaars 'n week nadat die diens oopgestel is, besluit die busbestuurders om hulle stuurwiele vir die dag te los. Ek skiem dit was om die langnaweek beter te geniet, my kind.. En toe steel kabeldiewe so 'n lang stuk kabel. Die kabel wat krag vir die trein gee in Pretoria, daar van Hatfield af tot by Centurion. Moes een moerawiese kabel gewees het! :-) En daar staan die trein vir die dag. EISH! The more things change...

En die ingelsman en meisiekind is uitmekaar uit, en sy is sak en pak terug by ons. Haar hartjie seer, maar ek is seker sy sal oorleef. Nou het ons 3 klein brakkies in die huis, want Tjoklits se boetie bly ook nou by ons.

En intussen maak ek my broek se belt al kleiner en kleiner. Want die broek hou aan afval as ek die belt nie styf genoeg vasmaak nie. En dis redelik embarrassing as mens se broek voor ander mense afgly.

En die winter is darem al driekwartpad verby. Nog net so 2.5 weke en dan is dit offisieël lente. Ek hoop net die lente besef dit ook!

En dis al vir vandag.

Lekker dag ou Grote! Wanneer braai ons?

Tuesday, July 19

It's wintertime now...

Is koud. Of in die woorde van een of ander ou bekende digter: Koud is die windjie en skraal... (sal nie die res publish nie, is nie SFW nie).

Ons het die winter tot dusver nogal baie koud gekry. Nog meeste van die jare kon ons op my verjaarsdag die aand buite kuier, want dit was nie snerpend nie. Die jaar moes ons binne sit. Dit was koud. Bitterkoud. So op my 4X4 jaar. My arme liefie sit nou officially met 'n ou man :-) Al sê sy dit nie self nie.

Gewig is nog mooi besig om af te val, klere sit soos sakke. Skoonpa skimp kliphard vir my te groot klere, maar is te lekker om dit te dra en dit wil net afval.

Karavaan is toe verkoop om te help om die gate wat ontstaan het in die persoonlike resessie te stop. Darem 1 minder worry. Al die persoonlike besittings gaan haal, en die wa "bemaak" aan skuldeisers, wat hom kon verkwansel vir die uitstaande skuld.

Met vroulief en kinders gaan dit goed, so goed as wat dit kan gaan. Hulle hou mens net op jou knieë soos mens bly bid dat hulle lewendig en veilig bly.

Bokwa is op soek na heelwat TLC. Die arme ding loop en hik en snik soos 'n brandsiek donkie. Maar regmaak sal maar moet wag tot daar weer 'n bonus is. Intussen ry ek maar met die klein rollercoasterkarretjie rond, en spaar petrol en doen my deel vir die omgewing. For what it's worth...

Nie baie nuus verder nie. Inteendeel, nuus is skaarser as koekies in die weeshuis....

So, tot ek weer my gedagtes probeer neerpen: Dag, ou Grote! Bly gesond hoor?

Wednesday, May 18

X marks the spot

En so breek 18 Mei 2011 aan. En almal gaan staan weer in toue. Om kruisie te trek, siet jy.. Ek en my liefie gaat staat toe ook in so 'n baie lang ry. Gesels met algar rondom ons. Heel feestelike atmosfeer. Ongeveer 'n dagreis te perd later (of so voel dit toe) kom ons uiteindelik in die groot saal aan, en word baie mooi verduidelik wat om te doen. Doet toe so, en beweeg baie snel na die naaste watergat toe. So 'n stemmery maak mens nogal taamlik dors, jy weet!

Intussen het daar baie lank en aanhoudend nie vreeslik baie gebeur nie. Die winter het met mag en mening aangebreek. Ek en liefie ry in onse smartiekarretjies rond en spaar petrol en gee baie klein "carbon-footprints" af. Stamperig, maar gerieflik.

Liefie se meisiekind word toe gisteraand 'n statistiek van die redistribution of wealth program, teen haar sin, toe haar selfoontjie hardhandig deur voorheen-benadeelde-agtergeblewene-insittendes verwyder word (sommer 5 van hulle nodig om 1 selfoon by 'n meisiekind af te neem. Shame!) Sy was uit die aard van die saak redelik getraumatiseerd, en het maar die nag eerder onder my dak as in haar eie kaja deurgebring. Skokkend, seg ek jou, skokkend!

Andersins byt ons maar styf vas. Wit Bojaan het die groot 4X4 getref (in lewensjare) en ek staan kort agter hom. EISH! Ten minste raak die pens kleiner en die klere groter.

Nou ja, tot ek weer iets het om oor te spoeg, staan sterk!

Nag ou Grote! Geniet die kleinkind!

Friday, April 15

Reën reën lieflike reën..

Vrydagaand in Pretoria. Nat, koud, en dis nou eers middel April.. Ek sien 'n nat koue winter wat wag op ons... Koud is die windjie en skraal... Ensomeer. Rooiwyn en kaggelvuur die winter, want verwarmers is uit seders ons hierdie voorafbetaalde lektrieks ingesit het. Aan die eenkant is dit lekker, maar aan die ander kant verkies ek die somer, met son, swem, en koue bier... Ek hou nie van koudkry nie. Het nog nooit nie, sal nooit nie.

Vandag was maar rather 'n waste of makeup. 4 ure gemors om te wag dat my neukenaar besluit of hy Windows 7 se service pack wil installeer aldan nie. Moes op die ou einde terugrol na pre-Service pack instellings. EISH!

Luister Abba op Jakaranda. Is nou sommer so half nostalgies..

En dis maar hoe dit is, soos ou Steve sal sê...

Geniet die naweek, en hou duime vir die Bulle!

Nag ou Grote!


Opdatering Saterdagaand: En daar verloor die Bulle, en dit is KOUD!

Thursday, April 14

My my how time flies!

Goeie hemel! Die jaar se spoed was rather ongeskik tot dusver! Ek kon skaars asemhaal! En toe bly my spoegblok agterweë... En daar het BAIE gebeur sedert laaskeer.

Ko's kyk:

  1. Die Wit Bojaan het getrek. Bly nou nie meer om die hoek van my nie. Hy het intussen 2 karre opgebou en verkwansel. Albei Jaguars. Nice waens!
  2. Vroulief moet vir oogoperasie gaan. Sy is besig om stelselmatig totaal sig te verloor.
  3. Laaitie ook. Sy eerste operasie is komende Dinsdag 19 April. Dan een so begin Junie. Volgens die oogdokter sal hy volkome blind word as hy nie gaan nie. Katarakte in albei oë op 13. Nie pret nie.
  4. By die werk gaan dit doller as kop-af. Werk aan heerlike nuwe innovasies. Pret!
  5. My gewigsverlies is mooi op track. Het al so +- 30 kg's afgegooi sedert ek met die dokter deurmekaar was en amper gedooi het. My klere pas alweer en ek moes my belt al 4 keer verstel.
  6. Dogter en boyfriend het eie kaya gekry en bly nou op hul eie. Seëning.
  7. Prepaid lektrieks ingesit. Om die hele stad te onderhou met my se krag rekening is nie regtig lekker nie.
  8. Liefie het vir ons elkeen 'n Smart gekry. Hare is maatskappymotor en myne is maatskappymotorbyvoordeel. Die goedjies ry damn lekker!!!
  9. Bruin wa se enjin het bietjie gehik en snik, maar danksy Wit Bojaan loop die ding darem weer.
  10. 3de Terabyte hardeskyf in my se kepjoeter ingesit. Baie spasie. Not. Te veel robbiesh wat die ding volmaak.
  11. Is al wat ek aan kan dink. Maar hou die spasie dop. Ek sal meer getrou kom sit en tik hierso. Belowe.

In ieder geval, die kooi roep, en ek wil gaan rus.

Wederom! Nag, ou Grote!

Friday, January 14

Die Bos, the Bigger Loser en ander gedagtes

En so kuier ek en myne toe oor Kersvakansie by Kokoriba saam met die Wit Bojaan en sy troppie. Lekker gevakansie innie bos. En die oujaar saam met Martiens-hulle in Nelspruit. En op Nuwejaarsdag is dit op teen die randjie na die Bridal Veil valle. Dis toe dat ek besef hier is moelikgeite. Die ou dikke lyf sukkel te veel. Neem toe net daar en dan 'n besluit om die jaar van die '11 iets aan hierdie karkas te doen ten opsigte van fiksheid en gewigsverlies. Sluit toe by die Wellness gym aan. Op die dag voor die skole open en ek terug is werk toe. Begin toe op die 12de met 'n ligte oefening deur eers daai loop-sonder-om-weg-te-loop aan te tree en toe fiets te ry sonder om weg te ry. En gister weer. En nou is my doelwit om die einde van die jaar minus 40kg te wees, en daai Bridal Veil (of enige ander soortgelyke sukkel) aan te tree sonder om weer te blaas soos 'n stoomtrein wat by 'n stasie inseil. Meer oor die vakansie op 'n volgende post...

Gewig op 14/1/2011: 141.2kg.

Watch this space closely!!

Lekker dag!

Goed gaan, ou Grote!

Tuesday, October 26

Asem in, asem uit...

So kry ek toe nou my kompressor, en bekyk die ding uit sewentien verskillende hoeke. Dit was so einde September rond, as die geheue nog reg werk. (Was bietjie te besig om by die spoegblok uit te kom.) So slaap ek daai eerste aand met die ding aan en raak so 4:30 die Saterdagmore wakker... so wakker soos 'n akker, maar uitgerus. Voel skoon vreemd! Daai eerste week was heel vreemd. Elke oggend voor die wekker wakker, en dan heeldag, sonder om te wil visvang, wakker. Vroulief was natuurlik baie impressed, want sy kon begin deurslaap. Blykbaar die eerste nag het sy nie 'n oog toegemaak nie, want sy kon my nie meer hoor snork nie! Nou is sy al so gewoond aan die stilte dat sy nie eens meer vreemde inbrekergeluide in die huis hoor nie. Ek word net elke oggend lyfseer wakker, omdat ek wakker word in presies dieselfde posisie waarin ek die vorige nag my hoof neergelê het. Maar nou ja, elke sport het sy beserings.

Self moet ek erken dat ek 'n nuwe mens is. Lewenslustig, energiek, voel beter, gewiggies begin so stelselmatig minder word. Hemde wat gespan het, sit los. Belde is op hulle laaste gate. Produktiwiteit verhoog omdat ek kan konsentreer. Liefie is nie meer gestress as ek bestuur nie, want ek raak nie aan die slaap agter die stuurwiel nie.

Op die tuisfront: Liefie hoor toe by haar dokter sy moet gaan vir allerhande toetse. Kameras wat van orals af beloer wat binne aangaan. Drink toe al die nodige medikasie, en ek kry haar toe maar baie jammer, want sy mag nou nog niks eet ook nie. Vat haar die dag toe na die PlusHuis toe, boek haar in, en die gewag begin. Kom sy eventueel uit die teater, beduie vir die nursies, as sy klaar geëet het, wil sy kaya toe. Kom ek en sy eers so 6 uur by die kaya aan. En ons wag op die uitslae. Eers 'n week later laat weet hulle haar dat sy 'n skoon verslag het, niks fout nie. Die probleempies waarmee sy sukkel, is maar diabeties-verwant.

En toe sien die Wit Bobbejaan amper die Pearly Gates van naderby. Gee ons groot skrik. Kom kuier by my, en oppad huis toe wil hy gou by die Geel Apteek langs. Volgende bel sy wyfie, en beduie my in horte en stote dat die ou onwel is, vleiswa is daar om hom bymekaar te hark, en ek verstaan nie mooi nie. Ek teken prente van motorwrakke, stukke mens wat rondlê ensomeer. Jaag om haar te gaan haal, jaag en soek na waar hy is, en kry hom eventueel in die parkeer area van die winkelsentrum, in die vleiswa, sy bromponie netjies geparkeer, geen skade, net hy totaal buite aksie. Uiteinde van die saak is darem dat die ou op die been is, en weer kan aangaan met sy bestaan. Hy het intussen daai bromponie vir 'n missis bitchi verruil, so 'n plat rooi ene. Nou spandeer hy elke wakker oomblik tuis om die wa te poleer, herbou, modifiseer, transmogrifeer en in die algemeen te personaliseer. Wat is 'n goeie Afrikaanse woord vir customize?

En nou stoom ons voort na Desember toe, vakansie tyd lê en loer vir ons. Nog net die laaste hompiekedompie en ons is daar.

Tot dan, lekker lees, hou die blink kant bo, en reik na die sterre.

Dag ou Grote!

Sunday, September 12

Nothing much, really....

Baie stil paar weke seders my "ordeal". Mediese fonds het my kompressortjie goedgekeur. Nou soek ons na 'n suitable ene, wat binne die koste-raamwerk pas. Maar die blerrie goed is damn duur. Seker omdat hulle die fondse so rook. En intussen suffer ek maar voort.

Toe gaan lees ek bietjie op, en sien daar is alternatiewe tot die CPAP behandeling. Lugweg oefeninge. Keel en tong oefeninge. So ek oefen. Nog nie veel resultate opgemerk nie, maar is seker maar soos alle ander oefeninge. Mens moet maar net aanhou. Lees ek verder dat om die didgeridoo te leer speel, help ook. Sirkulêre asemhaling, maak gebruik van keelspiere, tongspiere, ensomeer. So ek wil nou begin soek na iemand wat my kan lesse gee..

En die Bulle en die Bokke stel teleur. Erg. Ek sal sommer rugby los en begin onderwater skaak kyk. Dalk meer interessant. En minder stresvol.

Intussen gebeur daar nog niks interessants nie. En dit hou aan gebeur. So, vanaand gaan ek maar vroeg inkruip, en die fliek klaarkyk.

Tot ek weer die pen opneem,

Groetnis.

Nag ou Grote!