Monday, June 1

Oupa met 'n baard

Soos ons weet, slaap ek mos nou langs 'n ouma. En toe kry ons die geleentheid om die naweek te gaan kyk hoe lyk 'n kleinkind. Maar ek loop die storie vooruit...

In laasweek reël liefie toe nou dat ons die afgelope Sondag sal deurry Germiston toe, om klein Mine Janke te gaan loop ontmoet. Dis nou liefie se laaitie JP se dogtertjie by sy voormalige meisie wat hy nog steeds aan-en-af sien. Of so iets. Ons kry foto's van die kleinding en ek sien liefie se hart is baie swaar omdat sy nog nie die kleinding kon vashou nie. Maar so reël sy toe met Chauné en die se moeder (waar klein Mine'tjie bly) dat ons Sondag kan deurkom. So beek die naweek aan. En Saterdag gaan koop ons eers grootmaat kruideniersware aan vir die huis.

Maar voor die kopery stop ons eers by FinForum, want liefie moet gou bank toe. Maar daar was te 'n lang ry, en sy kom terug, en klim sommer by voorbaat in die verkeerde kar in, en beduie vir die geskokte man agter die stuurwiel iets van "Eff dit, die effen ry is te lank! En waar is die effen kinders?" En by verdere ondersoek besef sy die man is baardloos en die kar sit anders. Sy loer na hom en sê in 'n oomblik van wysheid "Jy is nie Johan nie. Skies!" en spring uit met 'n vaart terug om die bakkie om by ons in die kar aan te sluit, waar sy veronderstel is om te wees. Die gelag was onbeheerbaar rof vir die volgende 15-20 minute! Toe Makro toe, koop die kar tjokvol. Terug kaja toe, ontlaai die kar, terug vleismark toe, koop genoeg vleis vir 'n oormag. Kom Beukes-clan daar aan vir die braai, soos bespreek. Kuier baie lekker, maar hier deur die loop van die aand sien ek liefie is nie meer so orraait nie. Beduie sy dat sy baie opsien na Sondag, en vir maatjies Elaine en Mike gevra het om saam te gaan.

En Sondag breek aan. Ek is vroeg op, laai Brad af vir sy rolbal game, en daarna vir Cherise. Ons wikkel deur, tel Mike en Elaine op, en gaat na oupa Tony hulle toe. Sit en drink 'n "dutch-courage", en so kort voor 12 wikkel ons deur om Mine'tjie te loop ontmoet.

Liefie is so overwhelmed, sy vergeet om weg te hol of te huil. En sy onthou soortvan hoe om 'n baba vas te hou :) Die oupa in my kom sterk na vore en ek hou vas soos 'n ou hand. Voer, skud, skommel, en koer. Elaine neem net foto's soos 'n wafferse paparazzo, om die oomblik te verewig. En my hart swel soos nog iets.

En te gou is ons kuier-uur verby. Ons groet, en ry in stilte terug. Elkeen met eie gedagtes.

En dis hoe die oupa met die baard sy klein knoppie ontmoet het. Plekkie in my hart.



Oupa met 'n baard. Soos oupa's moet hê.

Groetnis ou Grote, Van oupa tot oupa.

No comments: