Monday, June 22

Goeiemore, hier volg die nuus gelees, wel geskryf deur die Willeboer

Lekker deurmekaar tye. Laasweek, so op die Vrydag, word by die soutmyne beduie dat daar 'n probleem met onse produkte is, en dat die probleem nie by ons ontstaan het nie, maar by die verskaffers van die produk, en ons in noodmodus moet opereer totdat die probleem hopelik spoedig uitgesorteer is. Vrolike chaos!

So liefie was toe af siek Donderdag, met die hollende siekte, en is toe na die kwak toe, wat beduie sy moet maar lekker vakansie hou vir die res van die week. Oudste dogter blaf so dat hulle haar maar veearts toe neem. Oulike staatsinstelling in Doornpoort ontdek wat nogal heel skaflik funksioneer! Toe is sy al blaffende tuis ook vir 'n improptu langnaweek.

Kom Saterdag, hang rond tuis, vang nie veel aan nie. Vinnig bank toe saam met liefie, en toe maar huiswaarts. Torien se laaitie kom haal haar blikbrein wat ek uitgesorteer het. En dis maar die oggend in 'n neutedop. Besluit toe is dalk tyd om bietjie bolle te loop rol. Liefie en Brad kom toe saam. Daar aangekom besluit hy om maar 'n sosiale rol te rol, en ek en liefie rol maar oefen tot sy moeg is. Kom Johan Barnard en rol verder saam met my 'n klompie bolle. Terug kaya toe, braai 'n varkie, maar niemand is juis honger nie. Dalk te koud? En Eskom skud weer die lading af. FloppenFlippetyFlok.

Sondag is Vadersdag. Wat in ons huis nie veel beteken nie. Eers na liefie vir Brad onthou, maak hy darem 'n koffietjie. Cherise bied darem aan om die kombuis op te ruim en Brad maak roereiers op toast. Danielle kom wys gesig om Pa te kom happy daddydag toewens, so vir 5 minute. Vaar ek maar winkels toe om rakhersteltoerusting aan te skaf. Die hangkaste in ons kamer se rakke wil nie meer rak nie, en ek moet maar inspring. So op Vadersdag. Fieks toe die lot. Tussendeur herlaai ek liefie se blikbrein, want die ding wil nie meer nie. Maak spaghetti a la Johan vir Vadersdagete. Bederf myself jy siet. En spandeer die middag maar deur die blikbrein klaar te laai. Stil aandjie, behalwe weer vir Eksdom, ekskuus, Eskom se gereelde (soos klokslag) ladingskudding. Met gepaardgaande flou verskonings. Al mooi gatvol daarvoor, want petrol vir die jinneryter kos geld!

Nuwe week, sal sien wat hou die week in.

Groetnis ou Grote. Hopelik skud julle krag op Planeet Plot nie so baie nie!

No comments: