Thursday, October 15

2020...

 Is weer hoog tyd dat ek in my joernaal kom griffel. Soos dit my smaak het ek so in Augustus laasjaar hierdie skryf-ding gedoen, so dis beslis hoog tyd..

Ok, kom ons kyk wat het alles in die lewe van die Willeboer gebeur van toeka tot nou.

In Augustus besluit die hele lot van ons mos toe ons is mooi gatvol vir die Munies-lewe. En so trek ons (en 'n paar ander pelle) ons tentpenne op, ek bedank al wat 'n komitee is, en ons skuif Harlequins toe. Daar was geween en gekners van tande deur die Munies-kadres, maar nou ja, so be it. Lekker gemaklik in die Quins-gesin ingeskakel, en ons sal sien hoe dit hier gaan. Ek speel sommer toe weer liga, in die reserwe span. En geniet dit! Baie lekker om sommer net weer rolbal te speel, en nie te worry oor kakkies nie. 

Op 'n dag word ons by die werk bymekaar gemaak (dis die hele EFTPOS groep) en meegedeel dat ons nou onder Kazang gaan inskakel, want synergy jy sien. Werk mos makliker om terminaal goete bymekaar te hou. Baie vrae, met sulke halwe antwoorde. Ek behou darem my jare diens. For what it's worth. En die jaar spoed na 'n einde toe, en toe word ons en die Kazang lot weer ingeroep en meegedeel dat ons (soos slawe van ouds) aan 'n ander maatskappy verkoop word. Die Cash Connect maatskappy. Die transaksie sal in volgende jaar gefinaliseer word. So ons weet nie wat die toekoms inhou nie. 

So gaan ons so einde November wel na die Munies-eindjaar toe, waar liefie en Cherise hulle trofee vir die dames-pare wat hulle gewen het, kry. Brad maak musiek, maar tipies Brad, skroef hy dit effe op, maar nou ja, at least betaal hulle hom. Lekker gekuier en klaar gekuier met die lot.

En so breek die Kersvakansie ook aan, en dit gaan jolig en rustig en lekker en alles is mooi. Ons ontspan, hou lekker vakansie, braai, kuier, vriende, ensomeer. Sommer net lekker. Intussen skuif Moeder van die Oos-Rand af Vanderbijl toe, na 'n beter tehuis toe (of so reken hulle). Verder van my af. Ek is bietjie hartseer maar wat kan ek maak. 

En die nuwe jaar breek aan, en ons skuif oour na die anneks-gebou toe om ons te begin uitskuif. En dit gaan ok, en goed, en ek werk steeds my gat af maar ek geniet my werk as die produkbestuurder met al die pligte en take wat daarmee saamgaan. Want dit is goeie ervaring, siet jy. 

Intussen revive ek my viniel-versameling. En rig die platespeler in die studeerkamer in. En koop plate op 'n plategroep. En my plateversameling brei uit. Ek geniet dit, net jammer draaitafel naalde is so blerrie duur!

Fiber is die nuwe in-ding, en ek bestel vir ons. Sodat ons beter internet kan hê tuis. Lekker man, lekker! Dit word toe gelukkig redelik vinnig geaktiveer en ek kanselleer sonder te veel pyne, my landlyn en ADSL. Beter spoed, beter betroubaarheid. Tegnologie werk.

En op 'n dag byt 'n Chinees een of ander virus in 'n vlermuis raak. En ons hoor dat dit laasjaar al gebeur het, en dat die Coronavirus, oftewel Covid-19, is in the wild. Ok, en die wêreld raak op hol. En mense word left right and center siek. En lande stel afsonderings in. En CHAOS. Die naweek wat die eerste Formule 1 wedren moet begin, word die sommer afgelas, want Covid-19 jy siet. En ons hoor by die werk dat ons moet sanitize en social distance. En ons doen. Louis beduie ons moet begin pak vir die skuif na Cash Connect toe. En ons begin pak. En in dieselfde week word aangekondig dat daar 'n lockdown kom, van 25 Maart af. met alles toe. Alkoholverkope, tabakverkope, alles taboe. Vir 21 dae. Donner, hoe gaan ons dit doen? So ek gaan daai middag en koop my kar se boot vol drank. Genoeg vir so 4-5 weke. Kom by die huis, pak alles af. En Donderdagnag, 25 Maart 2020, om 1 minuut na 12 (dws eintlik Vrydagoggend) tree die lockdown in werking. So die Vrydag stel ek en liefie vir ons 'n kantoor op in die eetkamer, en begin van die huis af werk. Die kids bly tuis, hulle werke is totaal gelockdown. En dit word stil in die land. Zoom-calls, online meetings, collaborations word die norm. En dit lyk of dinge werk. Die infeksies neem toe. En af en toe steek ek my toon by die hek uit om kosvoorrade aan te vul. Die wêreld lyk soos 'n spookdorp. Nogal funny om alles so stil te sien. En almal dra maskers. Ons het mos gedink dis altyd funny die Chinese wat so met maskers rondloop? Nou doen die hele wêreld dit. Weird!

2 weke in die grendeltyd (check daai spoggerige woord!) kondig die prez aan dat die tydperk met 2 weke verleng word. En my bier gaan dit nie maak nie. Maar my ma het nie 'n dom kind grootgemaak nie. Koop pynappels en gis, en begin brou op klein skaal. Want braai en Oros werk nie goed saam nie. 

Toe kom die guvvirmint en beduie van lockdown levels en ons is tans in level 5. En op vlak 4 sal alkohol weer beskikbaar wees. Maar blykbaar het die antie kopdoek (minister van samewerkende regering) nie van die idee gehou nie en beduie balls, dit sal nie. So ons is drankloos, twakloos, en moerig. Maar smokkelnerwerke skiet op soos onkruid. Mens betaal 10x die prys wat jy normaalweg sal betaal, maar rook en drink, die rook en drink ons. En die prez kondig hulppakket aan van 50 Biljoen Rand. En voor die mense hulle oë mooi knip, is die geld verkwansel en gesteel. En hy belowe hy gaan die skuldiges soek en aan die pen laat ry. Yeah riiight

Dae word weke, weke word maande. Liefie verjaar in afsonderingstyd, ons hou skelm partytjie met ons vrinne. Ek verjaar en ons hou skelm partytjie met ons vrinne. Winter kom en winter gaan. Dis koud. Maar ons hou kop bo water. Want ons hoef nie te ry nie. En vlak 4 word vlak 3, kinders gaan werk weer. En vlak 3 word drank weer toegelaat, en ons koop. En die prez verloor kop en kondig with immediate effect aan en daar is die krane van die dop weer toe. En die volk is moerig en murmureer en kla. 

En vlak 3 word vlak 2 en almal storm om drank en twak te koop. Liefie het intussen mooi opgehou rook vir ongeveer 100 van die grendel-dae. Maar die lus pak haar, en sy begin weer rook. Ai tog. En vlak 2 word vlak 1, en word herhaal en herhaal. En ons wonder of die ding ooit gaan wyk. Ten minste het ek die winter deurgemaak sonder om my jaarlikse bronchitis-griep te kry. Maar donner, dis nie lekker om altyd net tuis te sit nie. At least kon ons darem weer begin bolle rol. 

Liefie koop vir haar 'n omkapmasjien, ons rig 'n hoekie in die studeerkamer in waar sy haar naaldwerk-stokperdjie kan beoefen. En ek speel saam met haar. En as sy stik in die aande, speel ek plate. En dis te jollie-patrollie.

En Chantal, Quins Prez, bel my en lig my vriendelik in dat ek op die nuwe komitee dien as compsec. O poef! Daar is ek alweer komiteelid LMGA! Ah well, ek weet mos hoe om dit te doen. En ons bied 'n suksesvolle BGN Meesters toernooi aan, en Cherise speel en kom darem 2de in haar seksie. Sy is bietjie peeved, maar dis maar die nature of this game. Dan nie?

En ons werk van die huis af. Nog steeds. Liefie se werk blind-side hulle met 'n 20% pay-cut maar ook 20% verkorting van werks-ure. As if that's gonna happen! Gelukkig is ons uitgawes laer omdat ons nie hoef werk toe te ry nie. Ek drop Brad in die oggende by 'n kollega wat net oor die berg bly, en kry hom in die middae weer daar. En my werk beduie ons bly van die huis af werk vir die afsienbare toekoms, want dit is veiliger. Ek mind nie, want ek kry meer gedoen. En met die fiber werk alles mooi uit.

En intussen koop ek 'n stukkie plot in die plaaslike Spar, en val my skouer in beseringstyd in. Maar dit word beter, en dan seerder. Gaan sien maar toe die dok, en sy besluit sonar om te kyk wat is fout. En daar is fout. Verkalking van die senings in die skouer. So die volgende stap is om 'n spesialis te loop sien sodat die kan sien wat om te maak om die ding te fix. 

En liefie loop sien 'n uroloog oor haar blaas wat aanhou infeksie gee en drup-drup. En sy moet gaan vir groot toetse want klink of sy probleme het. So ons sal sien wat word van die lot.

En lewe gaan aan.


2020

'n Jaar om te onthou. 
'n Jaar van vreemde dinge, vreemde nuwe gebeure.
Nuwe maniere van dinge doen, nuwe lewe.
Vol vrese vir onbekendes, 
Maar tog gereed vir verandering.
Veranderinge wat ons onseker laat
Veranderinge wat ons bekommer
Gaan ons heelhuids deurkom
Gaan ons terugkeer na normaal
Of gaan die lewe permanent verander?

Die toekoms is nuut, en tog ook oud.
Nothing new under the sun, nothing new...

Sela. 


No comments: