Monday, August 5

Like sand through the hourglass, so is the time of our lives

So is dit alweer Augustus. Die winter van '19 is besig om verby te spoed, en die lente is in aantog. Maar soos ons weet, gaan daar nog 1 of 2 koue grepe wees voor ons die somerson op ons lywe kan voel.

Die afgelope ruk was maar 'n baie besige tyd. Ou Beertjiehond het haar 1 oog verloor, ook weer 'n klomp geld gekos dat die dieredokter haar beskadigde ogie kon uithaal en die gat toewerk. Maar sy is darem ok.

My geboortedag herdenking breek ook aan, ek gaan haal my moeder vir die feesnaweek, en ons klompie vrinne kuier te lekker om 'n beesstertpot. Net soos ons hom kan maak. Die BGN kampioen van Kampioene kompetisie word intussen beslis, en jors troelie is weer betrokke soos gewoonlik. Lekker besig! Dinge begin darem bietjie stiller raak op die front. Intussen rol liefie en Cherise die opposisie plat in die dames pare kampioenskap by die klub, en haal die finale rondte. Maar nou die groot gewag vir die ander spanne om ook daar uit te kom.

Op werksvlak gaan dit voorspoedig, vroeg op, laat tuis, maar geniet wat ek doen voluit. Back to my roots met terminale. Winter is ook hier met sy felle koue, en ons oorleef. Fyn sny, maar ons oorleef. Die naweek van die dames pare kampioenskap breek aan. Cherise vlieg terug huis toe van die kus af, ek gaan haal haar en Ouma, want Ouma wil kom kyk, siet jy. So gaan ons huis toe en die Sondag is kampioenskapdag. Senuwees is ragfyn gesnaar. En hulle speel. En hulle rol. En hulle loop voor. En hulle loop agter. En ons begin worry. En dis die laaste kop, hulle is 3 skote af. En ons bid vir 'n wonderwerk. En op Cherise se laaste bal is die wonderwerk daar. Hulle was 3 skote af, en skielik 5 op, om die kompetisie te wen. Kyk, daar heers GROOT trots! Ek koop sommer 'n rondte vir die spelers!

Intussen het Sussa gehoor dat sy ook na asem snak as sy slaap. (Soos ek uitgevind het daar in Augustus 2010 se tyd). So sluit sy ook by die snorkelklub aan. Gaan blykbaar bietjie sukkel-sukkel, maar sal haar ondersteun en bemoedig tot sy die ding baasgeraak het, en soos 'n normale asemhalende persoon kan slaap.

En dis die nuus en belangrike gebeure tot op hede. Nuwe nuus sal weldra aangebied word. Soos hulle in Brits beduie, Watch this space!




No comments: