Friday, May 24

Stand clear! We're going to revive this one!

Hallo wêreld! Op populêre aandrang word die ou spoegblok afgestof, en gaan daar weer skrywes begin verskyn. Want iewers moet ek tog uitlating gee aan die woorde hier in my binneste.

Nou ja, sedert my laaste skrywe so teen einde Augustus verleder jaar, het heelwat water in die see geloop, en die lewe het gekom, gegaan, verander en gebeur. Ek gaan probeer om dinge hier en daar raak te vat, saam te vat, verslag te doen, en te kyk of ek alles onthou wat ek nie vergeet het nie.

Nou ja, laat ons begin. Ek is toe mos nou die president van die rolbalklub met al die regte en verpligtinge en kopsere en gryshare en stres wat daarmee gepaard gaan. En liefie staan my by deur die rol van bemarking en bevolkingsontwikkeling offisier by die klub oor te neem. So is altwee van ons dus baie betrokke. Ons lewens het goed vol geraak, met rolbal en vergaderings en werk en ontspanning, en hospitaal. Maar voor ek myself vooruitloop, kom ons gaan delf in die lot.

So maand vir maand.

Septembermaand, die mooiste mooiste maand, want somer is oppad terug. Kids wen toe maar die gemengde pare by die klub, baie trots op die twee mamparras. Ons maak 'n draai by die ComiCon (Dis nou die show waar die mense wat hou van allerhande fiksie uithang en die dag net geniet) en ek ontmoet toe nou vir Travis Fimmel, dis nou Ragnar Lothbrok, die Viking. Interessante kêrel. En September gaan aan en aan, en hier na die einde van die maand is dit alweer hospitaal toe vir liefie. Daai blerrie ding wat haar amper haar lewe gekos het, het weer kop uitgesteek. Gelukkig kan hulle die ding fieks sonder om weer te kerwe. Sy beter haarself mooi oppas beduie die kwak.

En toe kom Oktobermaand. Met viooltjies in die voorhuis... Dis rolbal voor, en werk agter. En liefie lyk of sy dit sal maak. Been is darem weer ok, en alles lyk goed. So asof dit die stilte voor die storm kan wees. En wragtig. Toe gebeur die wonderwerk. Ek wen actually 'n singles game teen een van die senior spelers. Was close, 21-19, maar 'n wen is 'n wen. En almal dink dis baie funny. Maar nou ja, is mos maar rolbal. Ek hanteer die Beginners viere toernooi by die klub, asook die Besigheidsliga. En albei begin op 'n goeie noot. En so eindig Oktober ook. Die jaar spoed vooruit.

November is altyd een blitsige maand, want somer is in die lug, en die jaar is so te sê op sy rug. Op die bollerolfront gaan dit goed met die twee toernooie wat ek hanteer, doen dit al soos 'n meester! Die toernooie voltooi, en ek kry darem komplimente. Die klub se jaarlikse prysuitdeling vind ook plaas, en Brad en Cherise kry darem die trofee vir die gemengde pare. Ons kuier lekker, en Brad maak musiek. Gelukkig brand ons nie weer die kombuis af soos met laasjaar se partytjie nie! En ons kry 'n nuwe brakkie. 'n Optelweeskind. Iemand het 'n brakkie, by 'n asblik weggegooi. Hy was so klein en oulik, en totaal so vol geplooi.... Ek besluit toe maar ons kan die klein gedroggie hou. Intussen is Brad se kontrak by die lektriekse plek waar hy arbeid gepleeg het, tot 'n einde, so die outjie is weer op soek na iets om te doen. Cherise doen darem nog steeds vesel-optika-netwerke-werk, en klink of sy dit geniet...

So breek Desember uiteindelik aan. Somer, son, swem, bier, braai, kuier, lewe! Intussen besluit Eskom weer dat ons nie hulle krag so baie moet gebruik nie, en die geliefde(!) ou krag-af-skudding is terug met ons. Wonderlike vooruitsig! Intussen begin Brad werk by 'n lugversorgingsmaatskappy, hulle kantore is sommer in die kompleks. Sal maar sien hoe dit uitwerk! En so breek my langverwagte somervakansie uiteindelik aan! Ons hou 'n potjiedag saam met vriende, net om die somer te vier. En Kersfees kom, en Kersfees gaan. En so sien 2018 ook sy agterstewe. 'n Moeilike jaar, en defnitief ene vir die boeke! Maar voor die jaar toe finaal sy gaai sien, sien ek toe ook die binnekant van die siekeboeg op 'n skrik. Staan mos een oggend op, met hierdie pyn! Kompleet of my tieker besig is om my aan te val. Ek kommandeer liefie net daar op om my af te voer siekeboeg toe. En hulle bedraad en be bedrip en bepil en befoto my. En uiteindelik is dit toe net gastritis. Wat presies dieselfde simptome as 'n full-blown hartaanval het. Goeie donder, ek het groot geskrik!

Hopelik is 2019 meer gunstig!

Raait, Januarie skop af, en daarmee saam my laaste dae van Somervakansie. Ek maak die meeste daarvan, deur te swem, te braai, te ontspan. En dan terug werk toe. En soos ek by die werk inloop, roep die baas van EFTPOS my in. En vra my of ek belangstel om produkbestuurder te word, siende sy huidige produkbestuurder het bedank. Ek gee dit so 2 dae se gedagtes, en beduie hom dat ons maar die bal aan die rol kan sit. En die maand Januarie kry spoed, en dis rolbal en werk en rolbal en werk.. Ek kry my nuwe brille, sogenaamde kantoorlense. Multifokale. Sal maar sien hoe hulle uitwerk. En dis tyd om alweer 'n nuwe kar te kry. Dis darem die een ding in die lewe wat lekker bly. Hierdie nuwe kar storie elke 10-11 maande! En die Eskom-beurtkrag loop nog volstoom. Pyn-in-die-patootie! Intussen nog so 'n lekker somerbronchitis vir myself. Net om myself te laat goor voel oor myself. En rolbal liga begin ook. Liefie, Brad en Cherise speel vir onderskeie spanne, en ek sal weer my skeidsregter/organiseerderpos vul. Soos gewoonlik. En glo dit of nie, soos Januarie einde toe staan, beland liefie alweer in die siekeboeg. Liewe donderdag! Hoeveel keer kan een mens in een jaar in die siekeboeg beland met daai infeksie/sweer/knop/whatever! En die dok besluit hy gaan die ene ook met antibiotika flush, en nie sny nie. Dankie tog! Maar sy sal op 'n stadium weer moet hospitaal toe sodat die dok daai breuk van haar kan toewerk..

So breek Feberwarrie aan. En liefie in die hospitaal. En 'n tragedie in die Vaaldriehoek met 'n skoolbrug wat inmekaar val by Hoërskool Driehoek. Kinders dood, kinders beseer, en die lewe deurmekaar. Rolballiga gaan aan, en liefie speel obviously nie verder nie, siende sy is in die siekeboeg. Maar gelukkig nie lank nie, toe word sy vrygelaat op parool.. Ek doen toe ook my onderhoud by die werk vir daai bestuurspos, sal maar sien wat word.. En ons nuwe karre arriveer. GLA200, petrolmodel. Darem maar een baie mooi kar daai. Ek ry so 'n gryse en liefie so 'n witte. En die SA Meesters vind plaas, en ek umpire daar. En load shedding gaan aan en ek is nie baie ten gunste daarvan nie (dis nou op 'n mooi manier gesê ek is gatvol vir daai #@#) Februarie hou aan en aan en aan. En ek vind uit, as ek die joppie soek, is dit myne. En ek sê ek soek die joppie, en dit is myne. En ek is opgewonde! En Besigheidsliga begin weer by die klub. So ek is besig en besig en besig. Maar eerder besig as ledig. Want soos ons weet is dit die oorkussing van die ou Duiwel, ne? En liefie word alweer ingeboek in die siekeboeg. Maar die keer oor die breuk. Hulle wil haar ondersoek en prod en bevoel en besluit hoe hulle dit wil doen. En soos die einde van Februarie aanbreek, breek die einde van my loopbaan as programmeerder aan. Nuwe begin, nuwe uitdaging. Who knows, what tomorrow brings, in a world...

En dit was aand, en dit was môre. Maart. Nuwe begin in my lewe. Terug na my oorspronklike maatskappy. Terug na die masjiene waarop ek altyd gewerk het. So skuif ek oor na EFTPOS toe, en in die proses laat weet liefie sy word vrygelaat, maar sy sal sommer huis toe Uber. Is mos makliker as wat ek nou soontoe moet jaag om haar huis toe te taxi :-) En Brad kry nuwe werk by ARB. Hopelik werk die ene beter uit! En liga gaan aan, en die lewe gaan aan. En ek doen aansoek vir 'n nuwe kaart ID en my paspoort. Want ek sal dalk moet trêwwel vir die nuwe werk, mens weet nooit. En ek word verkies as die nuwe voorsitter vir die Pretoriase Munisipale Ontspanningsklub. Yay me! Groot verantwoordelikheid wat vierkantig op my skouers kom hang. Maar ek raak darem gewoond aan die manage-ding, en om die lewe te bestuur... Sal maar sien hoe werk dit alles uit op die lang duur. En liefie gaan toe om haar breuk te laat herstel. Die oggend in, hulle doen haar eventually laatmiddag, en die Saterdag word sy vrygelaat. Lekker vinnig herstel, dokter tevrede, en sy is ok. En die maand gaan aan met heavy beurtkrag. Sommer fase 4, dit wil sê, baie min krag vir baie min tyd. Ten minste spaar dit op my kragrekening. Die res van Maart loop rustig. En ek raak mooi ingebruger in my nuwe werk.

April, die voordeur van winter, breek aan. En daarmee saam liefie se halfeeu verjaarsdag. Genade, ek is met 'n ouvrou getroud! En Besigheidsliga loop ten einde. Maar Brad kwyt hom so goed van sy taak as musiekmaker, dat die studente oorkant die pad die  polisie na ons toe stuur om ons te kom stilmaak. Na ek hulle mooi verduidelik dat dit 'n georganiseerde toernooi is, en die klub oor al die nodige vermaaklikheidslisensies beskik (danksy my!) het die studente nie eintlik 'n been om op te staan nie. Maar die ironie! Studente(!) kla oor oumense(!) se musiek te HARD is? Rêrig?? En ons hou toe liefie se jaarsdag. So 'n lekker Chinese braai. Prettig. En sy geniet dit. En almal geniet dit. En met die volgende komiteevergadering bedank ek toe nou as President van die Rolbalklub. Want my boude is nie breed genoeg om twee stoele vol te sit nie, en dit is net te veel werk vir een armsalige persoon. So vat Marius Engelbrecht (Him of "Never again") die rol van President terug. En ou Tjoklithond word siek. Baie siek. Ek dog ek verloor die ou dier. Met baie gesukkel (die rande knyp erg) kry ons haar by Onderstepoort dat hulle haar kan stabiliseer, en die volgende dag na 'n gewone veearts (siende die lot by Onderstepoort vra ongelooflik baie geld!!!) om haar te laat regmaak. Hoenderhokprobleem, word opgelos, en sy is sommer beter! En Paasnaweek breek aan, en Paasnaweek maak klaar. En lewe gaan aan. En April maak klaar...

When I was small, and Christmas trees were tall.... Meimaand. Winder kruip nou vinnig nader. Die lewe begin stabiliseer, die verkiesing kom, die verkiesing gaan. Ten minste het die verkiesing meegebring dat die beurtkrag vir eers op die langebaan geskuif is. En Meimaand loop vir 'n verandering rustiger. Die SA Nationals vind plaas, en ek doen diens by die klub. Beide as skeidsregter en toernooi beampte. So ek is lekker besig. Maar dis lekker. En Meimaand loop mooi. Stil en rustig, soos ek dit verkies. Kom ons hoop dit bly so!

So daar is dit! My lewe is opgevang van die laaste keer wat ek hier gesels het, tot en met die hede. 'n Mondvol, maar so is die lewe. 'n Mondvol.

Lééf! Gryp elke dag!
Moenie wag, Moenie vrees.
Môre sal kom, met sy eie knype.
Gister was, en kan nie meer.
Die oomblik is nou,
die moment is hier.
Om te huiwer, om te wonder, om te wag,
is om die oomblik te verloor.

Lééf! Nou is die oomblik. Nou is die tyd.
Bekommernisse oor môre,
Onnodig verbrande krag.
Tob oor gisters,
Vermorste tyd.

Lééf!

1 comment:

Moeder Raaf said...

So bly ons het weer die voorreg om jou blog te kan lees en so jou lewe met jou kan deel. Sterkte daar en doet so voort. Ons wag in spanning