Monday, May 31

Dis die Blou....

Mense, 'n koorsige 2 weke, hoor my, 'n koorsige 2 weke. 22 Mei ruk Pretoria op na Soweto. Die kwarteindstryd teen die Crusaders. Almal maar bietjie bewerig om dit daar in die Gomorra deel van Sodom en Gomorra te waag. Maar rugby kraai koning en die Bulle wys die Crusaders waar in Soweto Dawid die wortels begrawe het. Ek en paar vriende kuier eerder by die huis as om vir "drunk and disorderly" op straat geprosedeer te word. Toe is dit mos nou die emosionele oorlog. Almal loop te vertelle dat die Stormers nou op hulle piek is, en die "af" naweek van die Bulle gaan hulle duur te staan kom. So tref 29 Mei ons met die spoed van die heilige wit fisant. En die Bulle word die laaste span om die Super 14 trofee te lig. Gal word gebraak deur al wat Stormer ondersteuner en speler is, maar soos ou Frik du Preez (of was dit Jan Ellis) beduie het: Tjek die scoreboard. En in die gevleuelde woorde van Koning Naas Botha: Cowboys don't cry. Aan die einde van die dag het rugby geseëvier met 'n baie opwindende game. En so kom die Super 14 tot 'n einde, en die trofee vind 'n permanente staanplek in die trofeekabinet op Loftus se gronde..

Selfs ou Grote het by my uitgeval net om sterkte te sê, oppad na sy ma toe. Die liewe tannie lê tans in die hospitaal, en ons gebede is met haar. Dit gaan nie baie goed nie.

Op die gesondheidsfront: Gaan sukkel-sukkel, maar sal beter gaan soos die geld minder raak, en mens minder moet eet/drink. Bloeddruk is nog maar op en af, maar darem meer af as op. Suiker bly mooi stabiel, maar damn! Ek raak lus vir tjoklitkoek!!!

Liefie het laasweek haar eerste eksamen in 25 jaar geskryf, en dit het blykbaar goed gegaan. Sy skryf more weer. Sterkte my babe, ek het volle vertroue in jou!

Intussen is my naweke baie vol, en is my swembad eerder tans 'n plaasdam. Nie so vol vis nie, maar net so groen. Ek sal moet plan maak.

En ons het die oulikste ou brakkie persent gekry. Yorkie-poo. Baster tussen Yorkie en Maltees. Bybie Tjoklits. Te flippen cute, seg ek jou, te flippen cute! Maar dis nou weer pajamadril van 'n nuwe uiterste. Die dingetjie moet eet in die nag, en dan moet mens die ding maak piepie op die koerant. Tjorts die dingetjie toe op Liefie se hand toe sy die streel-beweging probeer. Groot bron van lag, maar die hou in die ribbes was maar gevoelig. Nuwe reël: Mens lag nie vir jou vrou as die hond haar beskuie nie. Jy sjarrap net en help skoonmaak.

Ek sal per volgende geleentheid 'n foto of 3 van die monstertjie hier byvoeg.

Tot ons weer hier 'n gedagte of 4 vasvat, gegroet, en mag ons Hemelse Vader elkeen van my vriende/familie/kennisse/vreemdelinge in my poorte beskerm en seën.

Maranatha!

Nag ou Grote!



No comments: